Vrugbare lewe tot Gods eer - 19 Mei 2025
Ewald Schmidt
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug ...2 Petrus 1:5-6 1983-vertaling
Ons as gelowiges het by die Here alles ontvang wat ons nodig het om van te lewe, en om die Here te dien, sê 2 Petrus 1:3. Geloof is 'n kosbare gawe van God. Maar ons het ook 'n verantwoordelikheid om nou geestelik in hierdie geloof te groei. Petrus is besig met 'n reeks van sewe eienskappe van geloof waarin ons moet groei. Ons het reeds gekyk na deugsaamheid, kennis, selfbeheersing en volharding. Die vyfde van die eienskappe wat vandag oordink word, is godsvrug.
Op 'n hele paar plekke in die Bybel word gesê dat ons gemaak is om 'n vrugbare lewe tot God se eer te lewe. Ons moet vrugte dra wat by die bekering pas, het Jesus in Lukas 3:8 gewaarsku, en in vers 9 bygevoeg: "Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
Sekerlik die bekendste gedeelte waarin Jesus vra dat ons sal vrug dra, vind ons by die beeld van die wingerdstok en die lote in Johannes 15. Die dissipels wou weet wat die Vader van hulle verwag. Jesus het dit so geantwoord in Johannes 15:8: “My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” Hoe dra ons die vrug wat God verheerlik? Jesus het dit in Johannes 15:4 geantwoord: "Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.” Ons kan net vrug dra as ons in 'n lewende verhouding met Jesus ons Here staan. Ons dra vrug wanneer ons sy opdragte uitvoer, sê Jesus in Johannes 15:9. Die opdrag waarna Jesus dan verwys, is om mekaar lief te hê, soos wat Hy ons liefhet. (Johannes 15:12). Liefde is die grootste van al die vrugte wat die Here in ons lewe begeer. God is liefde (1 Johannes 4:16), ons is na sy beeld gemaak (Genesis 1:26) en hieruit volg: ons is gemaak om lief te hê. Ons maak van die wêreld 'n beter plek deur vrug van liefde in die duisternis van hierdie wêreld uit te leef.
Jesus het hierdie groot opdrag gegee die aand voor sy kruisiging. Na sy opstanding en hemelvaart het die Heilige Gees besit kom neem van elke gelowige. Waar Hy in ons werk, is Hy besig om ons nuut te maak, al meer na die beeld van Jesus te restoureer. Ons ken die vrug wat die Heilige Gees in elke gelowige se lewe voortbring: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22-23) Hierdie is die vrug wat die Heilige Gees graag in ons lewe bring, wanneer ons Hom toelaat en Hom gehoorsaam.
Daarom kan Petrus ons ook in vandag se teksvers oproep: Verryk jou volharding in geloof met Godsvrug. Hou aan om die regte dinge te doen! Dra die vrug wat wys dat jy bekeer is! So kan die Here die wêreld deur die lewens van sy dissipels verander.
Gebed: Here, dankie dat U my 'n nuwe mens kom maak het! Dankie dat U in my werk, Gees van God. Vul my met u krag, en help my om die vrug te dra wat ons Vader sal verheerlik. Mag daar Godsvrug in my lewe wees om U te eer! Amen.