Ek hou aan om die regte ding te doen, en as ek val, probeer ek weer - 16 Mei 2025
Ewald Schmidt
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding … 2 Petrus 1:5-6, 1983-vertaling
My ouma het gesê sonde is om te weet wat die regte ding is om te doen, maar dit nie te doen nie … My pa het kwaliteitbeheer toegepas in 'n fabriek, en hy sou weer sê die mikpunt is om die regte ding elke keer op die regte manier te bly doen. “Zero defek.” En ek? Ek was maar die stoute een in die familie wat dikwels nie die regte ding elke keer reg gedoen het nie. En jy?
Ons het gesien die Here is met 'n proses besig in ons lewens wanneer ons in geloof groei. Ons het gesien ons geloof Is 'n kosbare geskenk van die Here, vir elkeen wat Jesus ken as Here. Hy het alles gegee wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Maar ons het ook 'n verantwoordelikheid: ons moet alles in die stryd werp om ons geloof te verryk met deugsaamheid – om in beweging te kom vir Jesus. Ons moet kennis van God in ons lewe kry, deur tyd saam met die Here in sy Woord te spandeer. Ons moet die kennis wat ons van God kry, toepas deur die verkeerde dinge te vermy, en die regte dinge te doen. Dit vra selfbeheersing van ons.
Die Here vra egter nie net van ons om soms die regte ding te doen nie. Ook nie om soms selfbeheersing toe te pas nie. Dis 'n ding wat deurlopend moet gebeur. Vandag se vers vra van ons volharding, om aan te hou om die regte ding te doen, om nooit op te hou daarmee nie, al is dit soms baie moeilik.
Die Here se standaard is baie hoog. “Die Here het gevra: Wees heilig, want Ek is heilig …” (1 Petrus 1:16 is net een van die baie voorbeelde). “Heilig” beteken om “afgesonder vir die Here” te wees. Ons lewens moet voortdurend getuig dat ons aan Hom behoort, dat ons Hom dien en kanale van sy liefde in hierdie wêreld is. Ons moet aanhou om die regte ding te doen.
Paulus het ook hiermee gesukkel. Hy het dit nie altyd reggekry om die regte ding te doen nie. Hy kla in Romeine 7:19 “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.” Dan vra hy: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.” (Romeine 7:24-25)
Nie een van ons gaan dit regkry om altyd die regte ding te doen nie. Ons bly stry teen daardie donkerte wat nog diep in ons wegkruip. Die ou ek spring nog gereeld uit en tree op soos iemand wat Jesus nie ken nie. Volharding beteken nie dat jy altyd die regte ding gaan doen nie. Soms gaan jy ook val op die pad van heiligmaking en verkeerde keuses maak. Volharding vra om elke keer weer terug te kom na Jesus toe, soos Paulus dit in Romeine 7:24 verwoord. Ek maak foute, ek bly 'n ellendige mens. Maar Jesus het my kom verlos, in sy oë is ek 'n Koningskind. Kyk maar net waar gaan Paulus heen met Romeine 8:37 “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” Volharding is om elke keer weer terug te keer na Jesus toe, en deur die Gees weer elke keer op te staan wanneer ons geval het. Volharding vra nie hoeveel keer ons geval het nie, maar hoeveel keer ons met die Here se hulp weer opgestaan en weer probeer het.
Gebed: Here, dankie vir vars genade elke dag. Ek sukkel om altyd die regte ding te sê, te dink of te doen. Dankie dat ek met my gebrokenheid elke dag by U welkom is. Dankie dat U aanhou om met my 'n pad te stap, selfs al val ek so baie keer. Amen.