Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Om nie te maak soos jy wil nie - 15 Mei 2025

Ewald Schmidt
 
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing …  2 Petrus 1:5-6a,1983-vertaling
 
Waarom is daar soveel chaos in die wêreld op die oomblik? Ons lees in elke nuusberig van soveel haat, konflik en geweld tussen mense. Is dit nie maar omdat elkeen doen wat hulle graag wil nie? In die tyd van die rigters was daar gesê: “Die land het nie 'n koning gehad nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë” (Rigters 17:6)
 
Van die sondeval af (Genesis 3) was dit die probleem van die mensdom sonder God – elke mens doen van nature net soos ons wil. Wanneer ek ten alle koste reg wil wees, en doen net wat ek wil, dan kry mense rondom my seer.
 
Wanneer ons Jesus as Here van ons lewe leer ken, staan ons lewe onder nuwe bestuur. Ons behoort nou aan Jesus, want Hy het ons duur gekoop aan die kruis. Paulus beskryf dit so mooi in 2 Korintiërs 5:17-18a: “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom, Dit alles is die werk van God.”
 
Die Here werk in ons om ons nuut te maak. Maar in hierdie veranderingsproses het ons ook verantwoordelikheid, ons is nuwe mense in Christus, maar nou moet ons dit ook word, deur te groei in geloof. Paulus het dit in Efesiërs 4:22-24 so beskrywe: “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”
 
Wanneer die Heilige Gees in ons werk, is een van sy vrugte in ons lewe selfbeheersing. (Galasiërs 5:22) Vandag se vers vra van ons om ons kennis van God te verryk met selfbeheersing. Die Here wys vir ons deur sy Woord en Gees wat Hom nie eer nie, wat nie opbouend vir ons naaste of onsself is nie. Daarom neem ons beheer oor ons self, met die krag van die Heilige Gees. Ons kies om nie te doen wat verkeerd is nie. Ons lees ook in die Bybel dat die Here vra ons moet gaan liefhê –  om die Here lief te hê met ons hele hart, siel en verstand (Matteus 22:37) en om ons naaste lief te hê soos wat Jesus hulle liefhet (Johannes 13:34) Ons is nie altyd lus om dit te doen nie. Ons dink nie altyd dis in ons beste belang nie. Deur selfbeheersing stel ek my wil en my lus ondergeskik aan God se wil. As meer mense weet wat die regte ding is om te doen, en hulle kies om dit te doen omdat hulle God daardeur wil verheerlik, dan sal die wêreld 'n beter plek word.
 
Gebed: Here, ek is soms baie gemaklik om verkeerde dinge in my lewe toe te laat. En ek is soms baie traag en lui om die regte dinge in my lewe te doen. Deur u Woord te lees, weet ek van beter. Help my om beheer oor myself te neem, dat ek kan kies om die verkeerde te vermy, en die regte dinge te doen tot u eer. Amen.
Previous article: Ek hou aan om die regte ding te doen, en as ek val, probeer ek weer - 16 Mei 2025 Prev Next article: Hoe meer jy weet, hoe beter kan jy dien - 14 Mei 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.