Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hoe meer jy weet, hoe beter kan jy dien - 14 Mei 2025

Ewald Schmidt
 
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis … 2 Petrus 1:5, 1983-vertaling
 
Ons geloof is 'n kosbare geskenk van die Here af, het Petrus ons geleer. Toe ons Jesus as Here leer ken het, het ons deel gekry van die goddelike natuur. Ons word al meer en meer deur die Heilige Gees gevorm om soos Jesus te lyk (2 Korintiërs 3:18). Wanneer ons die geskenk van geloof kry, kry ons daarmee saam 'n verantwoordelikheid. Ons moet in geloof groei. Gister het ons gesien dat ons ons geloof moet verryk met deugsaamheid – ons geloof moet in dade oorgaan. Ons lewe gaan daaroor om die Here, en mekaar as medemense lief te hê, en te dien.
 
Dit is goed en wel om baie entoesiasties te wees oor enige saak. As jy nie weet wat jy doen nie, is jy nog nie 'n effektiewe getuie vir Jesus nie. Entoesiasme en bereidheid om te dien is egter 'n baie goeie fondament om al dieper in geloof te groei, daarsonder kan ons ook nie. Daarom sê vandag se vers dat ons deugsaamheid verder moet vat in ons geloofslewe. Ons moet deugsaamheid met kennis verryk. Petrus het juis in 2 Petrus 1:2 gesê dat ons genade en vrede in oorvloed beskikbaar het deur ons kennis van God.
 
Hoe kry ons kennis van God? Enige verhouding groei deur kwaliteit tyd saam. Ons het Jesus as Here ontmoet, en deur sy genade en liefde het ons Hom as Here van ons lewe leer ken. Ons het ons lewens aan Hom gewy, om vir Hom beskikbaar te wees vir diens. Maar wanneer ons tot geloof kom, is ons nog geestelike babas. Ons het nodig om te groei in ons geloof. In 1 Petrus 2:2 sê Petrus: “Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.”
 
Die Here het vir ons sy Woord gegee, sodat ons Hom al beter kan leer ken. Paulus vertel vir Timoteus in 2 Timoteus 3:14-17 watter rol die Bybel in ons geestelike groei speel: “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”
 
Ons het nodig om elke dag tyd in die Here se Woord te spandeer, om Hom al beter te leer ken, en deeglik bewus te word van sy plan vir my lewe. Ons het tyd in gebed nodig om met die Here te praat oor wat ons nodig het om Hom te dien. Dis die opdrag vir vandag: Beplan hoe jy tyd saam met die Here gaan spandeer, om daagliks jou deugsaamheid te verryk met kennis.
 
Gebed: Here, dankie vir u Woord. Dankie dat dit my geestelik voed om te groei in geloof, en U elke dag al beter te leer ken. Here, ek wil graag my verantwoordelikheid nakom deur daagliks tyd te maak om U beter te leer ken. Dankie dat U my deur u Gees op hierdie reis lei! Amen.
Next article: Ware geloof kry hande en voete - 13 Mei 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.