Ware geloof kry hande en voete - 13 Mei 2025
Ewald Schmidt
Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid … 2 Petrus 1:4b-5a, 1983-vertaling
Die Here maak van elkeen wat Jesus ken en volg, 'n nuwe mens. Ons kry deel aan die Goddelike natuur. Paulus noem ons “lede van die huisgesin van God” in Efesiërs 2:19. Ons is God se eie mense. Maar nou is dit nodig dat ons word wat ons reeds is. Ons moet groei in geloof. Die doel van geestelike groei word mooi deur Paulus in 2 Korintiërs 3:18 beskryf: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.” Ons groei al nader aan die Here, en lyk al meer soos Hy in ons gedagtes, woorde en dade.
Geloof behels nie net om te glo dat daar 'n God is nie. Die duiwel glo dit ook, en hy sidder van angs, sê Jakobus 2:19. Geloof is meer as om net te glo dat Jesus die Here is, maar aan te gaan op jou ou manier van doen asof Hy nie is nie. Petrus se opdrag vandag sê dat geloof verryk moet word met deugsaamheid. Wat beteken deugsaamheid? Geloof wat tot dade oorgaan. Ons begin uitleef dit wat ons sê ons glo. Ons begin die opdragte van die Here uit te voer. Wat beteken dit? Dis mos nou baie meer as om kerk toe te gaan, Bybel te lees voor jy gaan slaap en te bid voor jy eet. Geloof word 'n lewenswyse van gehoorsaamheid. Jesus het dit gesê in Johannes 15:9-12 “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.”
Wil jy 'n gelukkige lewe hê? Soek dan maniere om jou naaste te dien, soos Jesus ons kom dien het. Indien jy dit nog nie doen nie, raak betrokke by jou kerk. Kyk na die aksies waar jy met jou gawes 'n verskil kan maak om ander mense te help. Wees die persoon wat vir ander bid, en wat in ander se nood help. Dit hoef nie altyd groot dinge te wees nie. Die Here bou sy koninkryk met mosterdsaadjies, in sy hande word elke daad van gehoorsaamheid iets groot en majestueus vir sy koninkryk. (Matteus 13:31-32)
Die Here het jou 'n nuwe mens kom maak. Die Here het jou 'n unieke mens gemaak, en vir jou deur sy Gees baie spesiale gawes gegee waarmee jy die wêreld rondom jou 'n beter plek maak. Waag dit om vir die Here in gebed te vra waar Hy jou vandag wil gebruik. Dan sal jy Jesus se blydskap in jou lewe ervaar!
Gebed: Here, dankie dat U my 'n nuwe mens kom maak het. Dankie dat U vir my spesiale gawes gegee het waarmee ek vir U, en vir my naaste dien. Help my om met die krag van die Heilige Gees dit te waag om in geloof vandag 'n verskil te gaan maak in iemand se lewe. Gee my vandag 'n geleentheid om ander te dien. En vul my dan met u blydskap en vrede. Amen.