Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Nuwe lewe, van duisternis na lig - 12 Mei 2025

Ewald Schmidt

Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. 2 Petrus 1:4, 1983-vertaling
 
Ons het verlede week afgesluit met die kosbare boodskap dat die Here alles gee wat ons nodig het om te lewe, en om Hom te dien. Hierdie voorsiening is waar wanneer ons Jesus ken en geantwoord het op sy roepstem. In ons geloofslewe het die Here soveel wonderlike gawes vir ons gegee. Ons het die Gees van God ontvang, wat in ons werk met dieselfde krag as waarmee Hy Jesus uit die dood opgewek het. Romeine 8:11 sê “Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” Die Gees werk in ons!
 
Vandag se vers beskryf die proses van heiligmaking waarmee die Heilige Gees in elke gelowige besig is. Sonder Jesus in ons lewe word ons toestand beskryf as mense wat vasgevang is in die verderf van hierdie wêreld. Dit word op baie plekke met duisternis vergelyk. 'n Donker wêreld sonder Jesus. Begeerlikheid dryf ons dan –  ek doen net wat ek wil. Ek is die belangrikste persoon in my eie lewe. In die proses van om my eie begeertes te laat gebeur, maak ek ander mense seer. Ek doen nie wat die Here wil hê nie. Dis van die sondeval af die mens se grootste probleem – buite God se wil is daar verderf – alles gaan agteruit, en mense kry seer.
 
Hoe anders sou die wêreld nie kon wees as almal, soos wat Jesus beveel het, hulle naaste so lief soos hulleself gehad het nie? Omdat mense die liefdesgebod oortree, is daar haat, vyandskap, jaloesie, oorlog en moord in hierdie wêreld. Wat gaan die Here daaraan doen?
 
Hy is besig om die wêreld nuut te maak. Hy roep gewone mense soos ek en jy om sy kinders te word, om navolgers of dissipels van Jesus te wees. Ons word deur geloof nuwe mense, Petrus sê ons kry deel aan die Goddelike natuur. Wat beteken dit? Ons is in die begin gemaak om God se beeld, sy verteenwoordigers in hierdie wêreld te wees. God is liefde, sê 1 Johannes 4:16, en ons is na sy beeld gemaak. Ons is gemaak om lief te hê. Met die mens se rebellie teen God in Genesis 3 het daardie beeld van God in ons in stukke gebreek. Ons het gekies vir vyandskap teen God, en om eerder ons eie wil na te jaag. Maar wanneer ons Here Jesus Here en Koning van ons lewe word, dan begin Hy ons herstel, terug na die beeld van God toe. Ons word kinders van God. (Johannes 1:12) Ons word mense van die lig. Efesiërs 5:8-9 sê “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is.” Waar begin hierdie proses in ons lewe? Paulus sê in Efesiërs 4:23-24: ”Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”
 
Die Here help ons om nuwe mense te word. Maar ons het ook 'n verantwoordelikheid daarin, en in die volgende paar sessies gaan ons kyk hoe.
 
Gebed: Here, dankie dat ek deur geloof u kind geword het. Dankie dat U my nuut maak deur die werk van die Heilige Gees in my lewe, om meer en meer soos Jesus te lyk. Amen
Previous article: Ware geloof kry hande en voete - 13 Mei 2025 Prev Next article: Kosbare hemelse geskenke vir dié wat Hy roep - 9 Mei 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.