Kosbare hemelse geskenke vir dié wat Hy roep - 9 Mei 2025
Ewald Schmidt
Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. 2 Petrus 1:3-4a, 1983-vertaling
Die Here gee alles wat ons nodig het om van te lewe, en om Hom te dien. Ons het Hom leer ken wat ons roep. Hy roep ons om Hom te volg, en Hy stuur ons om sy lig in hierdie wêreld te laat skyn. Hy vra nooit van ons wat Hy nie eers vir ons gegee het nie. Vandag se teksvers sê dat Hy vir ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk het, soos wat Hy belowe het.
Wat is so kosbaar aan die Here se roeping in ons lewe, en wat het Hy vir ons geskenk om vir Hom te lewe? Ons het reeds in hierdie reeks gesien dat die lewe die eerste geskenk is. In Efesiërs 1:4 het ons gelees dat Hy, nog voor Hy die aarde geskape het, ons al uitverkies het om heilig en onberispelik voor Hom te lewe. Psalm 139 juig oor hoe ons wonderbaarlik in die moederskoot aanmekaar geweef is, en ons lewensdae is opgeskryf in die Here se boek nog voor ons gebore is. Die lewe is 'n kosbare geskenk uit God se hand.
Dan het Petrus gesê ons geloof is 'n geskenk uit die hand van die Here. Ons het dit uit genade ontvang. Ons het die geleentheid gekry om te hoor van God se liefde, en ons kon met blydskap daarop reageer. Want die grootste geskenk is ons Here Jesus self. Johannes 3:16 sê dat "God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê." Daarom sê 1 Johannes 5:12 “Wie die Seun het, het die lewe …” Die Here het vir ons sy Gees gegee. Hy is vir altyd by ons om ons te lei (Johannes 14:16-17)
Die Heilige Gees het ons sy gawes gegee, sodat ons saam sy kerk in hierdie wêreld kan wees, die liggaam van Christus. (1 Korintiërs 12:12-13) En die Here het vir ons die Bybel gegee, sy Woord wat ons lei op die regte pad deur die lewe. (2 Timoteus 3:16-17)
Wanneer die Here ons roep om Hom te volg gee Hy vir ons sy Seun as Verlosser, sy Gees as Leidsman, Hy gee vir ons die lewe, geloof, die Woord. Hy gee ons die krag van die Heilige Gees om getuies vir Hom te wees (Handelinge 1:8). Die Here het ons goed toegerus. Dan vra Hy soos vir die profete: "Wie kan Ek stuur? ... " (Jesaja 6: 8) As die Here ons roep, dan rus Hy ons toe vir die taak. Hy vra nie wat Hy nie eerste gegee het nie.
Gebed: Here, dankie dat U vir my voorsien in alles wat ek nodig het om 'n merkwaardige lewe tot u eer te lewe. Dankie vir al u allermooiste en mees kosbare gawes in my lewe. Help my om dit met wysheid en insig te gebruik in elke dag se wandel saam met U. Help my om getrou aan my roeping te wees, tot u eer. Amen.