Omdat ek Jesus ken, is ek 'n nuwe mens! - 8 Mei 2025
Ewald Schmidt
Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 2 Petrus 1:3, 1983-vertaling
God se kinders is anders as die wêreld se mense. In die wêreld word sukses gemeet aan dit wat jy met jou geld bereik. Peter Drucker het dit opgesom met “he who has the most toys when he dies, wins …” Tog neem niemand die skatte wat hulle op aarde bymekaar gemaak het, saam met hulle graf toe nie. Dit alles bly agter. As dit waar is dat 'n mens vir die ewigheid geskep is deur God, maar ons aardse skatte is tydelik, dan is dit nie waaroor die lewe gaan nie.
Petrus het in die eerste deel van die vers vir ons geleer dat die Here voorsien in alles wat ons nodig het om te lewe, en om Hom te dien. In die tweede deel van die vers, vandag se teks van oordenking, gee Petrus die rede. Ons ken vir Jesus! Ons het Hom op 'n dag ontmoet in ons lewens, en Hy het Here van ons lewe geword. Ons behoort nie meer aan onsself nie, Hy het ons duur gekoop aan die kruis.
Petrus het Jesus se roepstem gehoor daardie dag langs die See van Galilea: “Volg My!” So het elke gelowige ook die getuienis hoe ons persoonlik Jesus leer ken het as die Here wat ons kom verlos het. Ons elkeen het daardie roepstem gehoor van Jesus wat ons nooi om ons lewenspad saam met Hom te stap. Ons het bewus geword van sy heerlikheid. Hy is anders as ons, en as enige ander goeie mens. Hy is die Here. Hy is die Seun van die lewende God, soos wat Petrus bely het in Matteus 16:16.
Jesus se dissipels in die eerste eeu het saam met Hom gelewe. Hulle het sy heerlikheid gesien. Petrus was by toe Jesus op die berg verheerlik is, deur die Vader se stem uit die hemel wat sê: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom.” (Lukas 9:35) Hy en van die ander dissipels het sulke oomblike gesien waar Jesus se identiteit bevestig is. Hulle het ook sy mag beleef in tye soos toe Jesus op die water geloop het en die storms stil gemaak het. Hulle gevolgtrekking daardie dag was: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?” (Matteus 8: 23-27)
Ons ken Jesus deur die woorde van hulle wat saam met Hom was, soos Petrus. Ons vertrou hulle ooggetuie verslae oor wie Jesus is, en wat Hy vir ons gedoen het. Die ooggetuies getuig van Jesus se heerlikheid en mag. Hulle was bereid om Hom met hulle lewe te vertrou, en selfs vir Hom te sterf. Sy grootste magsdaad was om op te staan uit die dood – hulle getuig daarvan.
Dieselfde Here Jesus lewe vandag, en Hy openbaar Hom steeds met heerlikheid en mag in ons lewe. Hy roep vandag nog mense om Hom te vertrou, en Hom te volg. Vir ons wat Jesus so ken, vir ons het Hy die fondament geword waarop ons ons lewens bou. Daarom glo ons: Hy weet wat ons nodig het, Hy voorsien in elke behoefte. Hy roep ons om Hom te volg, en in hierdie wêreld 'n verskil te gaan maak deur ons praktiese geloof elke dag.
Gebed: Here Jesus, dankie vir u Woord, wat ooggetuieverslae bevat, u dissipels het u heerlikheid en mag gesien. Dit was vir hulle genoeg om hulle hele lewe aan U toe te vertrou, en U te volg. U roepstem kom ook vandag na ons toe: Volg My! Vul my hart met geloof en vertroue, en lei my na waar U my vandag wil gebruik. Amen.