Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hy gee alles wat nodig is - 7 Mei 2025

Ewald Schmidt
 
Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.  2 Petrus 1:3a, 1983-vertaling
 
Wanneer het 'n mens genoeg om van te lewe? Dis een van die moeilikste vrae in ons lewens. Diep in ons harte is die antwoord dikwels: “net nog so 'n bietjie meer …” Ons leef deesdae in 'n wêreld waarin daar so baie dinge is wat ons graag sou wou hê. Die hele advertensiewese bestaan om ons bewus te maak van behoeftes nog voordat ons dit ontdek het. Daar is altyd 'n nuwe, beter model erens in wording van dit wat ek graag wil hê. Die doelpale skuif gedurig oor waar ons tevredenheid sal bereik. Ons meet ook graag dit wat ons besit, met ons buurman. As sy speelgoed so bietjie duurder en beter as myne is, dan voel ek ongelukkig totdat ek hom verby kan steek. Dis 'n nimmereindigende kringloop waarin ons nooit by die punt van sukses uitkom nie.
 
Ons Here Jesus het vir ons 'n nuwe lewe kom gee. Hierdie nuwe lewe se beginsels werk heeltemal anders as die wêreld s’n. Die wêreld meet 'n mens se waarde aan dit wat hy besit, sy adres en sy speelgoed. Ons is anders. Ons is die mense wat die genade en die vrede van God beleef, omdat ons Jesus Christus ken. Die fondament van ons lewe is nie meer dit wat ek kan koop nie, maar die Here wat my duur gekoop het, en wat vir my sorg.
 
Die groot geheim wat Petrus vir ons met hierdie vers leer, is om die Here te vertrou. Ons Here Jesus het vir ons geleer dat ons Vader in die hemel weet wat ons nodig het, nog voordat ons vra. (Matteus 6:8). Hy het ook belowe dat ons alles sal ontvang wat nodig is wanneer ons sy koninkryk eerste stel in ons lewens (Matteus 6:33) Daarom verskuif ons fokus. Die ou mens is nog ongelukkig oor dit wat hy nog nie besit nie. Die nuwe mens in Christus is dankbaar vir wat die Here vandag gee. Petrus belowe: alles wat nodig is om van te lewe, en wat nodig is om die Here te dien, sal Hy voorsien.
 
Die Here vra niks van ons wat Hy nie eerste aan ons gegee het nie. Daarom is die uitdaging vandag om die Here te vertrou vir wat ek nodig het. Ons mag ook daarvoor bid. Jesus het ons geleer om te bid: “gee ons vandag ons daaglikse brood” in Matteus 6:11. En Paulus leer in Filippense 4:6: "Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”
 
Hierdie vers van vandag vat al ons verskonings weg oor hoekom ons nie nou die Here kan dien nie. Ek kan vandag met dankbaarheid lewe, want die Here gee alles wat ek nodig het om te lewe, en Hom te dien.
 
Gebed: Here, ek het u hand van versorging nodig in my lewe. Die wêreld rondom my het duur geword, en soms lê ek wakker oor die rekeninge wat ek moet betaal. Leer my om op U te vertrou. Leer my om my daagliks brood van U te bly bid. Help my om dankbaar te wees oor u seëninge in elke dag. Maak my hart nuut, en leer my op 'n nuwe manier dink en optree. Amen
 
Previous article: Omdat ek Jesus ken, is ek 'n nuwe mens! - 8 Mei 2025 Prev Next article: Twee van God se mooiste gawes vir dié wat Jesus ken - 6 Mei 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.