Twee van God se mooiste gawes vir dié wat Jesus ken - 6 Mei 2025
Ewald Schmidt
Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here! 2 Petrus 1:2, 1983-vertaling
Diep in elke mens se hart is die behoefte om vrede te ervaar. Ons is deur die Here gemaak as verhoudingswesens. Ons is gemaak om in verhouding met God te leef, en in verhouding met die mense rondom ons. Ons leef ook in verhouding met onsself. Ons grootste vreugdes in die lewe kom wanneer ons verhoudings heel is, dit is soveel meer werd as om aardse skatte te besit. Ons diepste seer kom ook wanneer die belangrike verhoudings in ons lewe nie reg is nie. 'n Mens kan skatryk wees, sonder enige gebrek, as daar nie vrede in jou huis en in jou hart is nie, dan is die lewe nie lekker nie.
Van die sondeval af was verhoudings die bose se grootste teiken. Met die rebellie van die mens in die paradys is die verhouding met God verbreek. Sonde het die verhoudings tussen mens en medemens seergemaak. Wanneer ons nie vrede met God het nie, is daar ook nie vrede in ons eie harte nie.
Dit wat ons die graagste in ons lewe wil hê, is vrede. Ons kan dit nie self regkry nie. Dis waar die genade van ons Here in ons lewe nodig is. God het die hart van 'n Vader, en Hy wil so graag in 'n lewende verhouding met ons ons lewenspad saamstap. Hy weet dat ons nie in staat is om self hierdie verhouding te herstel nie. Daarom het Hy sy Seun vir ons gegee. Jesus is die Vredevors wat God se genade vir ons kom bring het. Hy het alles wat die verhouding met God kom skade aandoen het, op Homself geneem, en aan die kruis daarvoor betaal. Paulus sê dit so mooi in Romeine 5:1-2a: “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan.”
Wanneer ons vra wat genade is, dan gee Microsoft Copilot hierdie antwoord: “Genade is 'n onverwagse geskenk van God wat ons nie kan koop, bewerkstellig of verdien nie. Dit beteken dat niks wat jy kan doen, sal maak dat God jou liewer sal hê nie, en geen sonde is erg genoeg om jou minder geliefd te maak nie.”
God se genade het sy Seun vir ons gegee, om aan ons die ware lewe te kom bied. Deur in Hom te glo, en Hom te volg, kom herstel die vrede in ons lewe met God, met ons naaste en in onsself.
Gebed: Here, dankie vir u onweerstaanbare genade in my lewe. Dankie dat U vir my so lief gehad het dat Jesus na hierdie wêreld toe gekom het, sodat ek nie verlore hoef te gaan nie maar die ewige lewe kan hê. Dankie Here Jesus, dat U die vrede met God kom herstel het. Dankie dat U deur u Gees in my werk, om ook in vrede met my naaste te lewe. Dankie vir vrede in my hart. Amen.