Ons kosbare geloof as 'n gawe van God - 5 Mei 2025
Ewald Schmidt
Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het. 2 Petrus 1:1b, 1983-vertaling
Petrus was 'n gewone visserman in Galilea in die eerste eeu na Christus. Hy is waarskynlik 'n klipgooi van die See van Galilea af gebore, en onder normale omstandighede sou hy die res van sy lewe daar deurbring, as 'n visserman. Dit sou maar 'n harde lewe wees, baie uitgelewer aan die wind en die weer. Soms sou daar oorvloed wees wanneer die vispryse goed was, ander kere sou daar tekorte wees wanneer die vangs maar skraps was. Dit was die lewe wat hy geken het, en dis wat hy verwag het van sy lewe. Hy is daar gebore, hy sou sy lewe lank visvang, en eendag daar sterf en daar naby begrawe word.
Maar op 'n dag het Jesus, die Seun van God, sy pad gekruis. Daar was iets anders aan Jesus as aan al die ander geestelike leiers wat Petrus al in sy lewe ontmoet het. Jesus het hom persoonlik kom opsoek. Jesus het hom geken, voordat hy Jesus geken het. Ons lees dit in Johannes 1:42: “Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus.”
Jesus het Petrus geken lank voordat sy broer Andreas hom aan Jesus gaan voorstel het. Andreas was opgewonde, hy het die Messias raakgeloop! Die Messias was al van die tyd van die ballingskap in die 6e eeu voor Christus verwag – die Gesalfde van die Here wat sy volk sou kom verlos. Wanneer Petrus Jesus leer ken, sien ons dat die Here al lankal aan die werk was. Die Here het hom gekies. Jesus het gekom om hom te ontmoet, en om hom te roep: Kom, volg My! Petrus sou ontdek sy geloof is 'n geskenk van die Here af. Dis nie iets waarvoor Petrus hard gewerk het nie. Hy moes nie eers 'n sekere aantal goeie dade in sy lewe doen voordat God hom raakgesien het nie. Petrus het ook daardie dag die Messias, die Gesalfde van die Here, langs die See van Galilea ontmoet. Hy het daardie dag tot geloof in Jesus gekom. Dit het sy hele lewe verander.
Baie jare later skryf hy 'n brief. Ek dink nie eens hy sou besef hoe sy brief in die Woord van God opgeneem, en deur al die geslagte gelowiges gelees sou word nie. Maar as 'n geestelike vader, wat 'n lang pad met Jesus saamgestap het, skryf hy ook vir jou en my. Ons is ook deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser ingenooi in die huisgesin van God in. Nog voordat ons vir Jesus kon kies, het Hy alreeds vir ons gekies. Op 'n dag het ons Hom ontmoet, en tot geloof in Hom gekom. Ons geloof is vir ons kosbaar, dit getuig van die Fondament op wie ons ons lewens bou.
In hierdie vers sien ons raak dat die Here ons ken, voordat ons Hom ontdek het. Paulus sou die grootheid van die Here prys in Efesiërs 1:4 met hierdie woorde: "So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees."
Gebed: Here, dankie dat U my ken, lank voordat ek vir U kon kies. Dankie dat ek die Messias kon ontmoet in my lewe. Dankie Here Jesus dat U my Verlosser is. Dankie vir my geloof, waarop ek my lewe bou. Dit is vir my kosbaarder as goud! Amen.