Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Volhard oorwinnend op die Here se pad! - 26 Mei 2025

Ewald Schmidt
 
Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie.  2 Petrus 1:10, 1983-vertaling
 
Die gevaarlikste hindernis op ons pad van geloofsgroei is ons eie gemaksone. Ons is maar van nature redelik lui. Sommige van ons hou daarvan om so min as moontlik vir so lank as moontlik te doen. Enige vorm van inspanning is 'n uitdaging vir ons. Die probleem daarmee is dat dit 'n lewe van middelmatigheid meebring. Ons groei net op enige terrein van ons lewe wanneer ons dit waag om ons eie grense van gemak verby te steek, en nuwe terrein te betree.
 
Wanneer Petrus ons in vandag se vers oproep om ons te “beywer” dan daag hy ons uit om in beweging te kom. Om jou vir iets te beywer, beteken dat 'n saak vir jou belangrik genoeg is om jou volle aandag daaraan te skenk. Jy staan spreekwoordelik uit jou gemakstoel uit op, en trek jou oefenklere aan. Jy kom in beweging, en druk jouself verby jou ontspanne fase.
 
Waarvoor moet ons ons beywer? Om ons nuwe lewe in Christus met die krag van die Heilige Gees te gaan aanpak. Die Here het ons op die naam geroep om Hom te volg. Hy het ons uitverkies om sy kinders te wees. Hy het ons baie duur gekoop deur die offer van sy Seun aan die kruis. Omdat ons in geloof die genade van die Here aanvaar het, is ons nou nuwe mense. Johannes 1:12 noem ons nou “kinders van God”. Die nuwe lewe in Christus is 'n geskenk van God. Maar ons het die verantwoordelikheid om in daardie geloof te bly groei.
 
Wanneer ons Jesus as Here van ons lewe leer ken, is ons God se kinders. Maar ons is dan nog pasgebore geestelike babas. 'n Gesonde baba is 100% mens. Hy of sy het al die potensiaal om te groei om uitnemend te presteer op die gebied waarvoor die Here hom of haar geskape het. Daardie baba moet deur die regte versorging, voeding en afrigting groei tot volle potensiaal in die lewe. Dieselfde is waar in ons geestelike lewe! Ons is God se kinders, gered deur sy genade. Maar nou moet ons groei in die geloof om ons volle potensiaal in die Here se koninkryk te bereik. Ons het nodig om deel van God se familie, sy kerk te wees, waar ons in 'n veilige atmosfeer geestelik kan groei. Ons het die voeding van sy Woord nodig, en die afrigting van die Heilige Gees.
 
Wanneer ons ons so beywer vir die koninkryk van God, sal ons geestelik bly groei. Met die oog op Jesus gerig, sê Hebreërs 12:3, sal ons nie geestelik moeg word en uitsak nie. Ons wat motorfiets op sand ry, ken hierdie beginsel baie goed. Solank jy opstaan, opkyk en gas gee, val jy nie maklik nie. Voorwaartse momentum is jou vriend. Dieselfde is waar wanneer jy Jesus volg – as jy vir Hom opstaan, jou oog op Hom rig en jou vir sy koninkryk beywer, struikel jy nie so maklik op die lewenspad nie.
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U voor loop op my geloofspad. Dankie dat ek in u voetspore mag volg, dat U my op die regte paaie lei. Help my om my liefde vir U, en my entoesiasme om geestelik te groei, te behou. Bewaar my van struikeling. Amen.
 
Previous article: Gelowiges het 'n blye toekoms omdat ons Jesus ken! - 27 Mei 2025 Prev Next article: Die hartseer van mense wat nie in geloof groei nie - 23 Mei 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.