Paasfees: 'n Tyd om te vergewe - 16 April.co.za
Charlea Grey
Jesus het gesterf, Hy was die offer. God het Hom gebruik om ons sonde te versoen. Maar nie net óns sonde nie, Hy het ook die sonde van al die mense in die wêreld versoen. 1 Johannes 2:2, Bybel vir almal
Wanneer 'n mens tyd maak om stil te staan en weer te dink oor wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het, kan 'n mens nie anders as om aan vergifnis te dink nie, né?
Ek onthou die Paasfees van 2020 baie goed. Ek kan skaars glo dit is vyf jaar terug. Ons was almal vasgevang in ons huise want reg oor die wêreld is mense ingeperk weens Covid-19. Ek onthou hoe ons die kerkdiens op ons skootrekenaar gekyk het – hoe ons nagmaal gehou het met 'n stukkie brood op die stoep van ons woonstel. Ek kan eintlik nie onthou of ons druiwesap of water gedrink het nie, maar ek is amper seker ons wyn was teen daai tyd heeltemal op.
Een ding wat my wel van daai Paasnaweek bybly, is hoe ek kans gehad het om te reflekteer en regtig diep te dink oor dinge wat my gepla het. Ek was na maande nog kwaad oor 'n ding wat met my gebeur het. Dit het my lank geneem om die gebeure te verwerk, maar daai Paasnaweek kon ek eindelik tot 'n punt kom waar ek gevoel het ek kon vergewe.
Hoe het ek daar uitgekom?
Dit was nie maklik nie en eintlik 'n proses. Ek het baie daaroor gedink en gereeld gebid. Ek moes ook die verskoning wat ek gekry het, aanvaar, selfs al het ek eintlik gevoel dit was nie voldoende nie. Ek het tot die besef gekom dat my konstante wroeging en onderliggende woede oor die saak, my selfs nog meer inperk as die inperking van daai tyd.
Ek het daardie Paasnaweek, vasgevang in ons tweeslaapkamerwoonstel, die betekenis van vergifnis herontdek want ek het vir die eerste keer in baie lank, baie tyd gehad om daaroor te besin. Saam met dit het ek ook opnuut waarde geheg aan vryheid, vriendskappe en sommer net die lewe. Dit was bevrydend om 100% te kon vergewe en aan te beweeg.
Dis amper weer Paasnaweek. Besin oor die dinge waaroor jy kwaad of seergemaak voel. Gaan dink opnuut oor vergifnis. Ja, dit gebeur nie oornag nie. Maar praat met God, sodat die proses kan begin. Al is dit stadig maar seker.
Gebed: Here, dankie dat U ons sondes vergewe het. Help my om die mense vir wie ek kwaad is te vergewe, net soos U ons keer op keer vergewe. Amen.