Paasfees: 'n Tyd om die lewe te vier - 17 April 2025
Charlea Grey
Jesus het vir hulle gesê: “Gaan na die hele wêreld en bring die goeie boodskap vir al die mense. Markus 16:15, Bybel vir almal
Die wonderlike ding van Paasfees is dat dit ook 'n viering is van die lewe – ja die ewige lewe waarin ons as Christene kan glo. Die dood is oorwin. Maar dis vir my ook 'n viering van die lewe oor die algemeen en hoe ons as Christene die mooi van die lewe kan raaksien en aangryp. Die lig ná die donker. Die vreugde wat ons ten spyte van hartseer kan ervaar. Die kans om oor te begin.
Paasfees is 'n tyd van stilraak, ja. Maar dis ook 'n tyd van samesyn. Dis 'n tyd waarin ons troos kan vind. Dis 'n viering van God se grootheid.
Ja, tydens Paasfees is 'n mens bewus van hartseer, swaarkry en eensaamheid. Ons raak opnuut bewus van Jesus se lyding maar ons kan ook onsself en mekaar opnuut herinner aan sy liefde vir ons – God se liefde vir ons en dat ons as nuwe mense, mense wat vergewe en vrygekoop is, die lewe voluit kan aanpak. En is dit nie sowaar 'n rede om fees te vier nie?
Mag jy en jou geliefdes inderdaad 'n geseënde Paasfees hê.
Gebed: Vader, dankie dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het en dat ek die lewe voluit kan aangryp en geniet. Dankie vir u liefde en genade, nie net baie jare terug nie, maar ook elke dag. Amen.