Paasfees: Die lig ná die donker - 15 April 2025
Charlea Grey
Omtrent twaalfuur die middag het dit donker geword in die hele land en dit was donker tot drie-uur. Omtrent drie-uur het Jesus baie hard geroep: “Eloï, Eloï, lema sabagtani?” Dit beteken “My God, my God, hoekom het U My gelos?” Markus 15:33-34, Bybel vir almal
Om oor te gee en nie te weet wat voorlê nie, is een ding. Om te voel asof jy stoksielalleen is, is iets anders. Daar is iets baie vreesaanjaend aan die gedagte.
Wanneer dinge swaar gaan, kan 'n mens maklik eensaam en geïsoleerd voel, selfs al word jy omring deur baie mense. Selfs al word jy omring deur geliefdes en vriende, kan dit met tye voel asof God van jou vergeet het.
Dit kan wees dat jy alleen voel omdat niemand jou omstandighede of teleurstellings verstaan nie. Wanneer jy omring word deur mense met wie dit goed gaan en jy jouself met hul prestasies of opwindende lewens vergelyk, kan jy maklik vergete voel. Wanneer is dit jou beurt? Waarom laat God nie ook dinge vir jou uitwerk nie?
As jy in die middel van 'n persoonlike krisis is, kan ons maklik wonder of God ons dan verlaat het.
Toe Jesus aan die kruis gesterf het en die dood vir ewig oorwin het, het Hy ook seker gemaak dat God nooit sy kinders sal los nie. God verlaat ons nie. Ja, soms voel dit asof 'n mens ver van God is, maar selfs dan is Hy naby en Hy wíl jou nader aan Hom trek want Hy is ontsettend lief vir jou.
Onthou hierdie Paasfees, dit maak nie saak hoe donker dit om jou is nie, maak nie saak hoe alleen jy voel nie, God ís by jou. Roep uit na Hom, Hy sal jou hand kom vat en jou na die lig lei.
Gebed: Here, help my om te onthou dat U my nooit sal verlaat nie en dat U altyd by my is, selfs al voel dit soms of ek ver van U is. Amen.