Paasfees: Om heeltemal oor te gee - 14 April 2025
Charlea Grey
“Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.” Lukas 22:42, Bybel vir almal
Wanneer Paasfees nader kom, dink ek nie noodwendig dadelik aan die kruis nie. Ek dink om een of ander rede aan Jesus in die tuin van Getsemane. Ek dink aan sy gebed en hoe Hy sy Vader gevra het om die lydingsbeker by Hom verby te laat gaan, mits dit God se wil is.
Geen mens hou van swaarkry of seerkry nie. Dit is nooit lekker as iets uitdagend voor jou lê nie – daai berg wat so op jou skouers druk. En Jesus was ook 'n mens, Hy was definitief bang oor dit wat kom.
Die lewe is vir niemand maklik nie en ons almal se uitdagings en die dinge waaroor ons bekommerd is, lyk anders. Ons is ook bang vir verskillende dinge.
Dalk word jou geloof getoets, dalk is dit jou huwelik. Dalk gaan jy deur 'n herstruktureringsproses by die werk, of word jy gekonfronteer met 'n gesondheidstryd van een of ander aard.
Ek weet, ons almal wil vir God vra om die swaarkry of moeilike omstandighede weg te vat. Ja, 'n mens kan lang debatte oor swaarkry in die wêreld voer. Maar dis nie die doel van dié stuk nie.
Wat ek wel met sekerheid kan sê, is dat God saam met Jesus was toe Hy daai swaar pad na Golgota moes stap. Jesus was nie alleen nie. God het uiteraard ook 'n veel groter plan gehad met Jesus se lewe en die swaarkry was ongelukkig 'n deel daarvan. Net so, is jy, as kind van God, nooit alleen nie, maak nie saak hoe swaar die pad wat jy moet stap nie. En net so, kan jy ook weet, dat God altyd 'n groter plan het.
Gebed: Here, die lewe is nie maklik nie. Hou my hand vas deur die swaarkry, dra my wanneer ek voel of ek wil opgee. Amen.