Wysheid en insig: Nederigheid - 11 April 2025
Charlea Grey
As iemand wysheid wil leer, dan respekteer en dien hy die Here. 'n Mens moet nederig wees, dan sal ander mense hom respekteer. Spreuke 15:33, Bybel vir almal
Wat is die eienskappe in mense wat jy bewonder?
Nederigheid is die een wat my dikwels opval. In 'n wêreld waar elke haan koning is op sy eie mishoop, is nederigheid ook nie meer iets wat altyd volop is nie.
Baie mense is gedurig op soek na roem of eer, openbare sukses, bewondering en aandag. Ja, dis lekker as 'n mens hard werk en dit word raakgesien. Dit is lekker om geprys te word as jy goed vaar by die werk. Ek dink nie daar is fout daarmee nie – ek spring byvoorbeeld self enige dag hoër as iemand vir my hande klap. Dis baie motiverend as jy raakgesien voel, erkenning kry en voel jy bereik die hoogtes waarna jy streef.
Solank jou sukses net nie maak dat jy op ander neersien of lelik is met mense nie.
Onlangs het iemand wat 'n kompetisie gewen het, iets neerhalend kwytgeraak oor 'n vriendin van my. Dié persoon ken my vriendin van geen kant af nie. Hy het sommer net om snaaks te wees, iets lelik oor haar voorkoms gesê. Sy het daarvan te hore gekom en dit het haar ontsettend seergemaak. Die ironie is dat dié persoon wat die aanmerking gemaak het, baie uitgesproke is oor aanvaarding en om mense se verskille te omarm.
Dit was so teleurstellend om van die voorval te hoor en dit het my net weer laat dink oor hoe 'n belangrike en mooi eienskap nederigheid is.
Mense sien nederigheid raak en ja, ek stem saam met die vers in Spreuke, mense het respek vir mense wat nederig is ten spyte van hul sukses en aansien.
Gebed: Here, help my om nederig te bly selfs al is dit vir my lekker om raakgesien en geprys te word. Amen.