Wysheid en insig: Wat sê jy? - 10 April 2025
Charlea Grey
Die mens wat baie praat, sê maklik verkeerde dinge, die mens wat versigtig is en dink voor hy praat, is verstandig. Die woorde van 'n mens wat reg lewe is soos die beste silwer, die dinge wat mense dink wat verkeerd doen, beteken niks. Spreuke 10:19-20, Bybel vir almal
Ek sê dit gereeld: Ons leef in 'n tyd waarin ons nie net toegegooi word deur inligting uit alle oorde nie, mense is ook meer en meer uitgesproke oor dinge. Die ironie en probleem is juis dat baie mense dink hul beperkte mening is net so geldig as die van kenners. Die lawaai op sosialemedia is met tye oorverdowend. Die talle meningstukke verwarrend. Die argumente op gemeenskapsgroepe dikwels sinneloos en sommer gewoon simpel.
Dis hier waar die stukkie uit Spreuke vir my so belangrik raak. In 'n tyd waarin almal iets te sê het – waarna luister jy, en wat sê jy? Dra jy by tot die gekwetter wat onmin saai, beledig en verkeerde inligting deel? Dra jy by tot skinderstories? Of is jou woorde soos “die beste silwer” wat mense se lewens verryk, aanmoedig en van God se teenwoordigheid in jou lewe getuig?
Dis die vrae wat ons onsself so nou en dan moet afvra, nie waar nie?
Ek glo dis goed om so nou en dan introspeksie te doen en te gaan kyk na jou lewe – die gesprekke waaraan jy deelneem by die werk, die dinge wat jy op sosialemedia skryf, die goed wat jy vir jou familie, vriende en geliefde sê? Hoe praat jy met jou kinders en waaroor? Hoe klink jou stemtoon? Kritiseer jy heeltyd, praat jy net altyd oor jouself of stel jy belang in ander?
My een vriendin kan soms spot en sê die wag voor haar mond was weer aan die slaap. Maar dink ons nog genoeg voor ons praat? Dink ons oor die dinge wat ons vir en oor ander mense sê? Praat ons die waarheid? Praat ons mooi met ander mense, veral die mense aan wie ons die gewoondste is?
Kom ons dink vandag 'n bietjie daaraan. Ek weet ek kan ook maar soms versigtiger wees met my woorde.
Gebed: Vader, help my om mooi te dink voor ek praat. Help my om my woorde te weeg. Ek wil eerder verryk met my woorde as wat ek kwets. Lei my, Here en gee my die insig om te weet wanneer om eerder stil te bly. Amen.