Wie is God? - 3 Maart 2025
Benescke Janse van Rensburg
Gee erkenning aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam! Bring offers en kom in sy teenwoordigheid! Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid! 1 Kronieke 16:29, 2020-vertaling
Iets buitengewoons gebeur wanneer God Homself aan ons openbaar. Vir Moses was dit ’n stem uit ’n brandende bos. Vir Jakob, ’n droom by Bet-El. Jesaja het Hom in ’n visioen op die troon gesien, omring deur serafs wat uitroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here Almagtig!” En Saulus het Hom in ’n helder lig ontmoet, waar ’n stem gevra het: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”
Een ontmoeting met hierdie heilige, almagtige God, het die loop van hierdie mense se lewens vir altyd verander. Dieselfde geld vir ons. God het ons geskep om in ’n verhouding met Hom te leef. Hy begeer om met ons te praat, om ons te lei en Homself aan ons te openbaar. Die sleutel is om tyd te maak om sy stem te hoor en sy aangesig te soek.
In 1 Kronieke 16:29 staan daar: "Gee erkenning aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam! Bring offers en kom in sy teenwoordigheid! Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid!" (2020-vertaling) Vandag hoef ons nie meer fisiese offers te bring om in sy teenwoordigheid te kom nie – Jesus Christus het reeds die prys betaal. Meer nog, Hy het die Heilige Gees aan ons gegee as Leidsman en Trooster. Hierdie maand wil ek jou uitnooi om opnuut saam met my God se aangesig te soek.
Laat ons Hom eer vir die heerlikheid van sy Naam en vashou aan die belofte in Jakobus 4:8: “Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader.”
Gebed: Vader God, baie dankie dat ek vandag tot U kan nader, met die wete dat U my geskep het om ’n verhouding met U te hê. Help my om my dae só te beplan dat ek nie net met U praat nie, maar ook hoor wanneer U met my terugpraat. My hartsbegeerte is om U beter te leer ken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.