Seën lê in gehoorsaamheid aan God - 28 Februarie 2025
Ruanne van Zyl
Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien en sy wil doen. Psalm 128:1, 1983-vertaling
Psalm 128 is ’n lied van seën en voorspoed vir diegene wat in gehoorsaamheid aan die Here leef. Dit beskryf hoe ’n lewe van eerbied en toewyding aan God oorloop in seëninge – nie net vir die individu nie, maar ook vir hul gesin en gemeenskap.
Die psalm begin met ’n duidelike stelling: Dit gaan goed met diegene wat die Here vrees. (Lees Psalm128:1, 1933/1953-vertaling) Om God te "vrees" is nie om bang te wees vir Hom nie, maar eerder ’n diep respek en eerbied vir wie Hy is. Hierdie respek lei tot gehoorsaamheid aan sy wil en ’n lewe wat in harmonie met sy bevele is.
Hierdie gehoorsaamheid bring tasbare seëninge mee. Die psalm gebruik die beeld van werk en gesin om die oorvloed van God se voorsiening uit te druk. “Die vrug van jou arbeid sal jy geniet” (Psalm 128:2) dui op die beloning wat voortvloei uit hardwerkendheid en eerlike arbeid onder God se leiding. Dit wys dat seën dikwels te vinde is in die gewone dinge van die lewe: werk, gesinslewe en gemeenskap.
Die beeld van ’n gesin as 'n vrugbare wingerdstok en olyfspruite (Psalm 128:3) wys hoe gehoorsaamheid aan God tot gesinswelsyn lei. Wanneer ons ons lewens op God bou, straal dit uit na die mense om ons. Die hele huisgesin leef in ’n atmosfeer van vrede, oorvloed en veiligheid wat deur God gegee word.
Ten slotte, word die fokus uitgebrei na die gemeenskap en selfs die nasie. God se seën strek verder as net die individu of gesin – dit bring voorspoed vir die hele volk. Hierin word ons herinner dat ons gehoorsaamheid aan God nie net ons eie lewens beïnvloed nie, maar ook dié van ander.
Gebed: Here, ek wil U eer deur my hele lewe, deur my werk, my gesin en my interaksie met ander. Help my om altyd op u weë te wandel sodat u seën sigbaar mag wees in my lewe en in die mense rondom my. Dankie dat U die bron van alle goedheid en oorvloed is. Amen.