Vertrou op God as Regter - 19 Februarie 2025
Ruanne van Zyl
My skild is by God wat die opregtes van hart verlos. Psalm 7:11, 1933/1953-vertaling
Psalm 7 is 'n smeekgebed waarin Dawid God aanroep as die regverdige Regter in 'n tyd van groot benoudheid. Hy is vals beskuldig en bedreig deur sy vyande, maar kies om sy saak voor God te bring, wetende dat God getrou, regverdig, en magtig is om reg te laat geskied.
Die psalm begin met Dawid se beroep op God: “Here my God, by U skuil ek; verlos my van almal wat my agtervolg, en red my” (Psalm 7:2, 2020-vertaling). Dawid verstaan dat ware redding slegs van die Here kom, en hy kies om nie self wraak te neem of sy saak met geweld te hanteer nie. In ons lewens mag ons dieselfde leer: om nie met mense te stry oor ons regverdigheid nie, maar eerder ons vertroue in God te plaas.
In die middel van die psalm verklaar Dawid dat God sy hart ken. “Here, Oordeel my op grond van my geregtigheid, Here ..." (Psalm 7:9, 2020-vertaling). Hy weet dat God die Een is wat die harte deursoek en motiewe openbaar maak. Hierdie waarheid is 'n waarskuwing teen valse beskuldigings en die behoefte om onsself teen onregte vyandigheid te verdedig. Ons kan met opregte harte voor God staan, wetende dat Hy nie net ons dade nie, maar ons innerlike intensies ken.
Dawid beskryf God as 'n regverdige Regter wat boosheid nie ongestraf laat bly nie, maar Hy is ook 'n barmhartige God wat die opregtes beskerm. In Psalm 7:11 noem Dawid God sy “skild” – 'n bron van beskerming teen elke vorm van aanval. Hierdie beeld herinner ons daaraan dat God ons sterkste verdediging is, selfs wanneer die wêreld teen ons draai.
Die psalm eindig met lof. "Ek wil die Here loof na sy geregtigheid en die Naam van die Here, die Allerhoogste, psalmsing." (Psalm 7:18). Alhoewel Dawid om hulp roep, sluit hy sy gebed af met dankbaarheid en vertroue. Hierdie gebedsvorm herinner ons om altyd die Here te prys, selfs in die moeilikste tye.
Gebed: Here, U is regverdig en getrou. Help my om op U te vertrou as my Regter, selfs wanneer ek onregverdig behandel word. Wees my skild en beskerming, en gee my die geloof om u Naam te loof in alle omstandighede. Amen.