God se oorvloedige seën - 20 Februarie 2025
Ruanne de Villiers
U kroon die jaar met u goeie gawes; waar U ook gaan, is daar oorvloed! Psalm 65:12, 1983-vertaling
Psalm 65 is 'n lofpsalm wat die grootheid van God besing as die Een wat gebede verhoor, die aarde voorsien en sy mense seën. Dit herinner ons aan die oorvloedige goedheid van God en sy hand wat aktief in die wêreld werk om voorsiening en orde te bring.
Die psalm begin met 'n loflied in die tempel: “Aan U, o God, kom 'n loflied toe ...” (Psalm 65:2). Hier word God vereer as die Een wat gebede verhoor en sonde vergewe. Dawid wys daarop dat alle mense tot God kom omdat Hy die bron van genade en versoening is. Hierdie waarheid geld steeds vandag – God bly getrou om gebede aan te hoor en ons van ons sondelas te bevry.
In die middelgedeelte van die psalm word God se krag en mag in die natuur beskryf. Deur sy krag laat Hy "die berge vas bly staan" en “die rumoer van die nasies bedaar”. (Psalm 65:7-8). Dit herinner ons daaraan dat God nie net intiem betrokke is by ons persoonlike lewens nie, maar ook die hele skepping beheer. Hy is groter as enige storm of probleem wat ons in die gesig staar.
Die laaste gedeelte fokus op God se voorsiening. Hy besoek die aarde en maak dit vrugbaar; water strome vol water en Hy gee alles wat nodig is vir oorvloedige oes. Hierdie beelde van hoe Hy die natuur seën, wys op God se hart van goedheid. Hy gee nie net nie – Hy gee in oorvloed. Die frase in vers 12, “U kroon die jaar met u goeie gawes,” is 'n kragtige erkenning dat elke goeie ding wat ons ontvang, uiteindelik van God af kom.
Psalm 65 herinner ons om dankbaar te wees vir God se seëninge in ons lewens, van die kleinste detail tot die grootste wonderwerke. Hy is ons Voorsiener en ons Redder. Laat ons sy goedheid besing en in elke seisoen van ons lewens op Hom vertrou.
Gebed: Dankie Here, vir u oorvloedige goedheid en voorsiening. U sorg vir die aarde en vir my met 'n liefde wat nooit ophou nie. Help my om altyd u seëninge raak te sien en u Naam te loof. Amen.