My godsdiens of Syne - 30 Januarie 2025
Ben Fourie
Pasop dat niemand julle meevoer deur ‘n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op Christus nie. Kolossense 2:8, 2020-vertaling
Selfgemaakte godsdiens is wat Paulus bedoel met die dwaalleringe waarvan hy in die brief praat en wat groot aftrek gekry het in die gemeente van Kolosse. Selfgemaakte godsdiens is nie gegrond op die ware evangelie nie, maar op die siening van mense. Hy noem dit filosofieë, menslike tradisies en teorieë oor wettiese godsdiens. Dit het engel aanbidding en beperkings op sekere kos en drank ingesluit. Die vraag is waarom die mense in Kolosse hulle deur die vreemde leerstellings laat verlei het?
Paulus gee vir ons die antwoord in Kolossense 2:23 wanneer hy sê: “Hoewel hierdie voorskrifte met hul selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard.”
Hierdie mensgemaakte godsdiens is nutteloos, maar dit het blykbaar baie aantreklik gelyk. Dit is niks nuuts nie en die mense van Kolosse is nie uniek in die opsig nie. Deur die eeue het die idee van selfverlossing nog altyd mense aangelok. Dit is vanweë die mens se trots dat hy nie kan aanvaar dat verlossing geheel en al God se werk is nie. Mense wil iets bydra tot hulle verlossing al is dit net om sekere kos en drank te vermy.
Enige vorm van selfgemaakte godsdiens is egter dodelik gevaarlik, want terwyl jy dink dat jy met God se dinge besig is, is jy dalk met afgodediens besig. Godsdiens wat nie volgens die Woord is nie, is mos afgodediens. Deur selfgemaakte godsdiens word dit waarvoor Jesus baie duur aan die kruis betaal het op die ou end waardeloos.
Die heel belangrikste ding wat ons in hierdie nuwe jaar kan doen is om ons verlossing volledig in God se hande te los en ons nie te steur aan allerlei teorieë oor die mens se redding wat so dikwels aan ons opgedis word nie. God red ons sonder enige bydrae van ons kant af. Geniet jou verlossing die jaar voluit.
Gebed: Ag Here, ek verval so dikwels in my eie mensgemaakte idee van wie U is. Help my om deur u Woord en u Gees te verstaan wie U werklik is. Amen