Op pad met Christus - 31 Januarie 2025
Ben Fourie
Dit is hoe julle dit moet eet: met heupe omgord, julle sandale aan julle voete en julle wandelstokke in julle hande. Julle moet dit haastig eet. Dit is die Pasga van die Here. Eksodus 12:11, 2020-vertaling
Reisvaardig. Dit is die beste manier waarop 'n mens die volk Israel kan beskryf daar op die aand van die eerste Pasga. Aangetrek, sandale aan die voete en kierie in die hand. Op pad uit Egipte waar hulle vir vierhonderd jaar gewoon het. Gedurende die laaste jare van die verblyf was hulle slawe van die farao, maar nou was die tyd van slawerny verby en was hulle gereed om te vertrek na die beloofde land. Selfs die woord Pasga dra in homself reeds die betekenis van iets wat verby is. Hierdie “verby” beteken die lewe wat hulle tot op daardie stadium gely het, was onomkeerbaar agter die rug. Weg is die verdrukking in Egipte, dit is nou voorwaarts op pad met God na die beloofde land.
Hierby sluit Paulus in Romeine 13:12 aan: “Die nag het reeds ver gevorder, dit is amper dag. Kom ons doen dan afstand van die praktyke van die duisternis en trek die wapenrusting van die lig aan.” In die kerk van Christus is dit nou permanent Pasga. Elke gelowige moet reisvaardig wees. Ons moet geklee wees met die Woord van God en aan ons voete moet ons die skoene van geloof dra terwyl ons leun op die “kierie” van die Gees.
Die nuwe jaar dra vir my dus 'n dubbele boodskap. Eerstens hoor ek die boodskap dat die slawerny van die sondenag vir ewige verby is. Die oggendlig van 'n nuwe dag saam met God slaan al in die ooste deur, want Jesus se bloed aan die kruis is vir my ook die bloed aan die deurkosyne, sodat die tweede dood by my kan verbygaan.
Tweedens hoor ek deur wat Paulus sê dat ek my ook moet voorberei soos die Israeliete by die Pasga. Ek kan nie sonder klere en skoene die nuwe jaar aanpak nie. Op pad na die beloofde land kom daar soms op my pad 'n bitter fontein, op my pad moet ek ook betaamlik kan leef soos Romeine13:13 sê. Sonder die Woord as kleding en die geloof as skoene en die Gees as stut, sal die pad te lank en te swaar raak en dan verdwaal ek dalk veertig jaar lank in die woestyn van die lewe. So, trek aan jou klere en skoene en vat jou kierie styf vas, dan sal hierdie nuwe jaar die begin wees van 'n nuwe lewe.
Gebed: Ek is dikwels nie gereed om u werk te doen nie. Maak my asseblief hierdie jaar reisvaardig om u koninkryk elke dag meer in die wêreld sigbaar te maak. Amen