Verheerlik God in alles die nuwe jaar - 29 Januarie 2025
Ben Fourie
As iemand aan die woord is, laat dit soos woorde van God wees; as iemand dien, laat dit wees vanuit die krag wat God voorsien, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig. Amen. 1 Petrus 4:11, 2020-vertaling
Wat is regtig die sin van die lewe? Anders gestel. Waarom leef ek, is ek en bestaan ek? Deur die eeue het filosowe, geleerdes, leiers van verskillende godsdienste en ook ons gewone mense hierdie vrae gevra. Ook hier aan die begin van die nuwe jaar dring hierdie vrae by jou aan op 'n antwoord.
Gedurende die negentiende eeu het verskeie filosowe, maar veral Friedrich Nietzsche, die sogenaamde nihilisme as lewensfilosofie verkondig. Vir 'n definisie van nihilisme het my getroue ou woordeboek tekort geskiet en moes ek my na Wikipedia wend. “Nihilisme is 'n begrip wat gebruik word in die filosofie, om die ontkenning van die bestaan van betekenis of waarde in die wêreld aan te dui. Die woord kom van die Latynse "nihil" wat letterlik "niks" beteken”. Hierdie filosofie het spoedig groot aanhang verkry. Na die verskrikking van die Tweede Wêreldoorlog het die idee van die sinneloosheid of niksseggendheid van die lewe nog meer prominent geword.
Is dit dalk waar dat die lewe totaal niksseggend is, dat my lewe maar net 'n gestadigde dood is, dat daar “niks” is wat die moeite werd is nie? Nee nooit! Behalwe dat daar baie singewing is om net elke dag my beroep te beoefen, 'n bydrae tot die samelewing te maak, met ander mense in 'n verhouding te staan, gee ons teksvers vir ons 'n antwoord op die vraag of die lewe enige sin maak.
Dit maak sin, sê Petrus, wanneer God in alles wat ek doen verheerlik word deur Jesus Christus. As jy dalk nou voel dit is maar die ou afgesaagde resep wat die kerk al so lank verkondig, gaan dink weer mooi oor wat hier staan, maar lees veral ook 1 Petrus 4:7-10. Hier gee Petrus vir ons 'n lysie van dinge wat vir God verheerlik. Die belangrikste staan sommer al in vers 8 “Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat die liefde ʼn menigte sondes bedek’”.
Nietzsche en sy aanhangers is verkeerd. Deur mekaar lief te hê en God daardeur te verheerlik, kry die lewe volledig sin. Jesus was die grootste voorbeeld van liefde toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het. Laat die nuwe jaar vol wees van ons liefde vir God en almal rondom ons.
Gebed: Maak my asseblief iemand wat in liefde met my medemense sal leef en veral ook iemand wat in liefde met hulle wat die naaste aan my is, sal leef. Amen