Wat om die jaar met Jesus te doen - 28 Januarie 2025
Ben Fourie
En kyk, die hele dorp het uitgegaan om Jesus te ontmoet; en toe hulle Hom sien, het hulle Hom gesmeek om uit hulle gebied weg te gaan. Matteus 8:34, 2020-vertaling
“Twee levensgevaarlijke bezetenen leven in die bergen. Wat doet onze Lieve Heer? Hij drift de duiwel uit in die varkens die zich dan in die afgrond storten. Nou, zeggen die dorpelingen, knap hoor, maar als het onze varkens moet kosten, dan hebben we toch liever dat je een dorpje verder gaat.”
Die dorpenaars, soos wat die Hollandse skilder en skrywer Rien Poortvliet hulle teken, sien en verstaan wel deeglik die grootsheid van die wonderwerk, maar omdat dit vir hulle 'n groot geldelike verlies aan varke beteken, smeek hulle dat Jesus liewer sy wonderwerke op 'n ander plek moet gaan doen.
ʼn Mens kan so iets van hulle dilemma verstaan. Wat maak ʼn mens met die man wat duiwels uitdryf, siekes genees, dooies laat opstaan en die vormgodsdiens van sy tyd ernstig aanval? Maklik. Jy ruim Hom uit die weg deur Hom te laat kruisig. Hierdie vreemde mens wat selfs beweer dat Hy die Messias is moes so gou moontlik stilgemaak word, want Hy kos hulle hulle ou sekerhede, Hy kom krap dinge om, maak hulle onrustig.
Sy idees en preke is radikaal. Waar het 'n mens byvoorbeeld gehoor van iets soos dat jy jou vyand moet liefhê. Daarom kruisig hulle Hom, maar dit is net die begin van nog groter probleme vir hulle, want Hy staan uit die dood uit op en sy volgelinge begin met 'n heel nuwe godsdiens.
Hier aan die begin van nog 'n jaar konfronteer Jesus ons elkeen opnuut met die vraag: Wat gaan jy die jaar met My doen? Die mense van Gadara het 'n maklike oplossing gehad. Laat Hy tog net hier padgee. Laat Hy sy wonderwerke maar liewer by ander mense gaan doen. Die Joodse owerhede het ook 'n maklike oplossing. Gee Hom oor aan die Romeine om gekruisig te word. Daar word tog genoeg mense gereeld gekruisig. Een meer dooie Jood sou nie soveel saak maak nie en vir hulle 'n netelige probleem oplos.
Die verhaal van Saggeus gee egter vir my 'n oplossing wat ek hierdie jaar met Jesus moet doen. Ons lees in Lukas 19:6: “Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus met blydskap in sy huis ontvang.”
Gebed: Liewe Vader, maak van my asseblief ook hierdie jaar ʼn Saggeus. Help my om u Seun opnuut met blydskap in my lewe te ontvang. Amen