Geestelike groei - 27 Januarie 2025
Ben Fourie
smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing 1 Petrus 2:2, 2020-vertaling
Geestelike groei volg dieselfde pad as fisiese groei. Eers word die baba gebore en groei dan stadig tot 'n volwassene. Sommige mense kom gouer tot volwassenheid en ander het meer tyd nodig en so ook met geestelike groei. Vir ‘n persoon om fisiek en geestelik te groei, is daar ‘n paar dinge nodig.
Om te kan groei het ons eerstens goeie kos nodig. Babas vaar gewoonlik die beste met moedersmelk, maar soos wat ons groei, het ons verskillende soorte kos nodig wat genoeg proteïne, glukose en vitamiene bevat. Om geestelik te groei het ons ook goeie geestelike kos nodig. Op die gebied het ons veral die suiwer (die 1933/1953-vertaling gebruik die woord onvervalste) Woord van God nodig. Soos die liggaam verskeie kossoorte nodig het om optimaal te groei, het ons ook die verskeidenheid van verhale in God se Woord nodig. ‘n Persoon wat ophou eet, sterf binne ‘n seker tyd. As ons ophou om die Woord te gebruik, sterf ons ook geestelik ‘n stadige dood.
Die tweede ding waarsonder geen mens kan klaarkom nie is suurstof, dit wat ons sommer asem noem. Daarsonder sterf jy binne minute. Die Heilige Gees is die asem vir die gees van die mens. Ons kan van die lewendmakende Gees van God praat. Daarom moet ons elke dag baie naby aan Hom leef anders gaan ons geestelik nie groei nie en kan ook sterf.
Die derde en laaste is oefening. Oefening is nodig vanaf kindwees tot in die ouderdom. Baie mense glo nie dit is so nodig nie en ons hoef seker nie almal elke dag vir ure in die gimnasium deur te bring nie. Maar sonder ‘n mate van oefening groei die liggaam nie en verswak gou-gou. Kyk maar as ‘n mens weens siekte lank in die bed moes bly hoe jou spiere swak word en jy van voor af moet leer loop en dinge doen. Om fiks te wees op geestelike gebied vra dat ons sal goed doen aan onsself, maar ook aan ander mense.
Daar lê ‘n lekker lang jaar voor om die Woord te geniet, die asem van die Heilige Gees deur my te voel vloei, en deur my geestelike oefening ‘n verskil in ander se lewens te maak.
Gebed: Ons dank U weer vandag dat hierdie jaar soveel moontlikhede bied vir elkeen van ons om te vorder op die geloofspad. Amen