Die groot vreugde - 24 Januarie 2025
Ben Fourie
Hy het opgespring, regop bly staan, rondgestap, en toe saam met hulle die tempelterrein binnegegaan, terwyl hy loop en spring en God prys. Handelinge 3:8, 2020-vertaling
Vir my is hierdie een van die vrolikste verse in die hele Bybel. Ons sien 'n man wat rondloop en dan rondspring van pure blydskap. Hy is soos iemand wat 'n baie groot geskenk gekry het en dit is natuurlik presies wat gebeur het. Hy het een van die kosbaarste geskenke gekry waarvan enigiemand maar kan droom. Die Bybel sê vir ons hy was van sy geboorte af verlam en daarom sekerlik altyd van ander afhanklik. En dan skielik hierdie ongelooflike geskenk wanneer hy in 'n oomblik genees word.
Die Bybel beskryf vir my die hele toneel baie mooi. Eers kom hy op sy voete en besef skielik hy kan vir die eerste keer in sy lewe staan. Dan toets hy hierdie nuwe belewenis 'n bietjie verder deur rond te loop en wanneer die volle besef van wat gebeur het hom tref, begin hy spring. En uit hierdie groot blydskap bars lofprysinge aan God oor sy lippe. Al wat hy daardie oggend verwag het was 'n aalmoes, maar hier gee God vir hom dit waarvan hy sekerlik in sy wildste drome nie kon dink nie.
Wat verwag ons van hierdie nuwe jaar? Dieselfde as verlede jaar? Die afgelope jaar was vir my 'n heel goeie jaar, so as die nuwe jaar ook so lyk, sal ek nie kan kla nie. Maar moet ek tevrede wees met hoe my lewe verlede jaar verloop het, of moet ek uitsien daarna dat God vir my ook hierdie jaar weer iets heel nuut wil bring. Wie sê daar is nie iets op my pad wat my ook sal laat rondspring van blydskap terwyl ek God loof en prys nie?
Ek hoef eintlik nie daaroor te wonder nie, want as ek my oopstel vir die werking van die Heilige Gees in my lewe, sal God vir my hierdie jaar op geestelike gebied so seën dat ek nie anders sal kan as om Hom te loof en te prys nie. Die verlamde man by die Mooipoort het na Petrus en Johannes gekyk met die verwagting van 'n geringe aalmoes, maar hy het die geskenk van 'n nuwe lewe gekry. Ons hoef nie te wonder wat ons van God sal kry as ons oë stip op hom gevestig is nie. Hy gee graag die ewige lewe as geskenk aan elkeen wat dit wil hê.
Gebed: Here ons bely dat dit soms vir ons voel of die lewe ons in die grond wil druk. Help ons om in sulke omstandighede steeds te onthou dat U altyd weer ʼn deur oopmaak sodat ons vreugde in U kan geniet. Amen