Niks nuuts onder die son nie - 23 Januarie 2025
Ben Fourie
Daar is niks nuuts onder die son nie. As daar iets is waarvan iemand sê,"Kyk hier, dit is nuut!" – dit het reeds gebeur in die tye wat voor ons daar was. Prediker 1:9b-10, 2020-vertaling
So vroeg in die jaar vind ek dit nogal bra moeilik om met die Prediker te worstel. Alhoewel dit een van my gunsteling boeke in die Bybel is, kan hy my soms redelik morbied maak. Neem nou byvoorbeeld die verse wat ons vandag gebruik. 'n Mens wil so graag hê dat hierdie nuwe jaar iets anders sal bring, maar as jy die Prediker se woorde lees, lyk dit asof alles wat gebeur het, maar weer so sal wees. Is dit inderdaad so?
Ons gebruik die woorde van Prediker dikwels sommer in die alledaagse gang van dinge verkeerd, soos die volgende illustreer. Ek koop glad nie op e-handel nie, maar onlangs wys my vrou vir my 'n paar drafskoene wat ek lankal begeer, maar wat normaalweg heeltemal te duur is vir my sak. Presies wat ek wil hê en teen 40 persent korting. So kry ek toe my eerste pakkie by die huis afgelewer. Dit het my laat dink aan toe ek 'n kind was en ons by Jack Lemkus in die Kaap speelgoed bestel het wat deur die pos afgelewer is. Daar is sowaar niks nuuts onder die son nie sê ek vir my vrou.
Die Prediker bedoel natuurlik heeltemal iets anders. Prediker is waarskynlik een van die jongste boeke in die Bybel, dalk so jonk as 300 v.C, 'n tyd toe, volgens die Bybel met verklarende aantekeninge, “die Joodse volk onder invloed van die Griekse oorheersing en gees geworstel het om die hoofwaarhede van die voorvaderlike geloof staande te hou.”
In hierdie tyd worstel die Prediker met die lewensvrae van sy tyd en veral die vrae wat sy geloof direk geraak het. In die soeke na sin, raak hy soms moedeloos tot by die punt waar hy niks nuuts in die lewe sien nie, hy voel asof alles maar net dieselfde was as in die verlede, inderdaad was daar vir hom niks nuuts onder die son nie. Lees 'n mens egter die hele boek, weet jy dat die Prediker na sy gestoei met die soet en suur van die lewe, by die besef kom dat “Die slotsom is, nadat alles gehoor is: Betoon ontsag vir God en kom sy gebooie na ...” (Prediker 12:13). Dit maak die lewe sinvol en dit gee my moed om ook die jaar aan te pak.
Gebed: Hemelse Vader ons dank U dat die lewe werklik sinvol is vir elkeen van ons wat glo dat U die lewende God is. Maak ons opnuut dankbaar vir die nuwe jaar waarin ons ʼn lewe vol sin kan hê. Amen