Ou volk – nuwe volk - 22 Januarie 2025
Ben Fourie
Vir My sal julle 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees. Eksodus 19:6, 2020-vertaling
Julle, egter, is " 'n uitverkore geslag", " 'n koninklike priesterdom", " ’n heilige nasie", " ’n volk wat aan God behoort", "sodat julle die deugde kan verkondig" van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig – 1 Petrus 2:9, 2020-vertaling
Oud en nuut. Israel die ou volk van God en ons die nuwe volk van God. Die hele Bybel handel oor die volk van God en sy interaksie met hulle. In die Ou Testament geskied dit op 'n ander manier as in die Nuwe Testament, maar aldeur vertel die Bybel vir ons die verhaal van hoe God met mense besig is. In hierdie twee verse, in Eksodus en die eerste Brief van Petrus, kry ons 'n amper identiese beskrywing van hoe sy volk daar uitsien. In enkele pennestrepe word die buitelyne, maar ook die wesenlike aard van die volk geteken. Uitverkore volk, priesterlike volk, koninklike volk, heilige volk.
In die ou bedeling maak God uit al die volkere van daardie tyd vir Hom ʼn volk bymekaar. Die proses begin toe hy vir Abraham uit Ur roep om die stamvader van die nuwe volk te word. Hierdie proses van uitkies het niks te doen met hoe goed die volk was nie, want die volk Israel het immers nog nie eers bestaan nie. Dit sou nog eeue duur voordat hulle 'n volwaardige volk sou wees. Dieselfde geld in die nuwe bedeling wanneer God deur die werk van sy Seun vir Hom 'n nuwe volk uitkies, nie omdat hulle goed is nie, maar omdat Hy goed is en wil hê dat elkeen wat glo gered sal word. Nie die ou volk of die nuwe volk kan dus spog dat God hulle kies omdat hulle iets besonders is nie, dit is net genade.
Wat moet ons as nuwe volk van God elke dag doen? In die Ou Testament was die priesters die mense wat direk met die uitvoer van die godsdiens gemoeid was. So ook ons vandag. Ons moet in hierdie nuwe jaar nie sit en wag dat die kerkleiers die geloof in stand hou nie. Ons is elkeen voluit daarvoor verantwoordelik.
Die nuwe volk is ook koninklik, nie om op 'n troontjie te sit nie, maar wel om op 'n sekere manier in die wêreld sigbaar te wees. Ons moet nie oor die wêreld wil regeer nie, maar ons moet die wêreld bewus maak van die regering van God.
Ten laaste is ons ʼn heilige volk, dit wil sê afgesonder, anders as die wêreld, maar nie buite die wêreld nie. Inteendeel, ons is juis in die wêreld met alles wat daarmee gepaard gaan om mense te laat sien dat jy nie nodig het om in duisternis te lewe nie, maar kan lewe in sy wonderlike lig.
Gebed: Soms as ek voor U staan, is ek bang vir die verantwoordelikheid om vir U ʼn priester, profeet en koning in die wêreld te wees. Help my om die vrees te oorwin. Amen