Sing 'n nuwe lied - 21 Januarie 2025
Ben Fourie
Sing vir die Here 'n nuwe lied, besing sy roem van die einde van die aarde af, julle wat die see bevaar, en alles wat in die see is, ook die eilande en hulle bewoners. Jesaja 42:10, 2020-vertaling
Ai tog – die liewe Nuwejaar voornemens. Ek is nou al op die punt om net een Nuwejaar voorneme te maak en dit is om glad nie voornemens te maak nie. Toe ek bogenoemde deel uit Jesaja lees, het ek van plan verander om tog een groot voorneme te maak. Dit klink vir my 'n wonderlike voorneme, ja meer as net 'n voorneme, om hierdie jaar vir die Here 'n nuwe lied te sing.
Dit is nie 'n nuwe gedagte waarmee Jesaja hier werk nie. Daar is ander plekke in die Bybel waar die gedagte om vir God 'n nuwe lied te sing voorkom. Ons sien dit in verskillende Psalms waarvan Psalm 33:3 so klink; “Sing vir Hom 'n nuwe lied; speel mooi op snaarinstrumente met uitroepe van vreugde.” Om te sing was van alle eeue af 'n manier om emosies uit te druk, veral ook die van vreugde. In Efesiërs 5:19 sê Paulus “terwyl julle onder mekaar psalms, lofgesange en geestelike liedere laat opklink, ja, van harte tot die Here sing en psalmsing.”
Met al sulke mooi ander teksverse, waarom gebruik ek die spesifieke vers uit Jesaja vir ons dagstukkie? 'n Mens moet die hele hoofstuk lees om werklik te sien wat die omvang is van hierdie nuwe lied wat gesing word. Dit moet ook teen die agtergrond van Jesaja se profesieë gesien word. Die boek Jesaja is nie net deur een persoon geskryf nie maar is waarskynlik verskillende profesieë wat saam groepeer is. Vanaf hoofstuk veertig word byvoorbeeld 'n ander tydvak as die eerste hoofstukke aangedui. Gebeure hier vind plaas in die tyd van ballingskap in Babilonië, allermins 'n tyd vir vreugdesange en nuwe liedere. Tog is dit juis die tyd wat Jesaja aandui as die tyd vir 'n nuwe lied. Die rede is dat hy hier die eerste aankondiging maak van die kneg van die Here wat Israel uit ballingskap sou bevry.
Hierdie kneg is koning Kores van Persië wat die Jode toestemming sou gee om na hulle land terug te keer. Meer nog word hier ook heengewys na die groot Kneg van God, Jesus Christus wat sou kom om alle mense uit die ballingskap van sonde te verlos.
Daarom is my voorneme om as vrygeraakte banneling hierdie jaar uit vreugde vir God 'n nuwe lied te sing. Gaan jy saamsing?
Gebed: Ek pleit dat U vir my sal help dat my gebedsgesprekke met U hierdie jaar ook 'n nuwe lied sal word. Amen