Nuwe jaar – nuwe lewe - 20 Januarie 2025
Ben Fourie
Daarom as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. 2 Korintiërs 5:17, 2020-vertaling
Alhoewel ons al so 'n week of twee met die jaar gevorder het, lê 2025 nog soos 'n blink nuwe sikspens in ons hand. 'n Sikspens was in die dae voor desimalisering 'n klein muntstukkie met groot koopkrag, veral as jy 'n sesjarige kind in die laat vyftiger jare van die vorige eeu was. Wat 'n groot geskenk was so 'n sikspens nie. Met 'n sikspens kon jy ʼn groot bottel koeldrank en 'n hele kardoes lekkers by oom Japie se winkel op Groblershoop koop en nog 'n pennie se kleingeld kry. Rykdom vir 'n kind.
Die vers uit Korintiërs laat my dink aan daardie blink nuwe sikspens wat ek baie styf vasgehou het sodat ek dit nie dalk op pad na die winkel met sy lekkernye verloor nie. Wat gaan ek hierdie splinternuwe jaar doen met die groot geskenk wat God vir my in en deur Jesus Christus gegee het? Hoe gaan ek sorg dat die geskenk nie dalk deur die rompslomp van die lewe langs die pad verlore raak nie?
Hoe goed 'n mens na 'n geskenk omsien, word dikwels bepaal volgens die waarde wat jy daaraan heg. Omdat die sikspens vir my as kind baie werd was, het ek dit baie goed opgepas. God se geskenk aan ons is so waardevol dat ons dit met ons lewe moet oppas. Sy geskenk is om van ons splinternuwe mense te maak. God stof nie die ou mens net so effentjies af nie, maar herskep ons om heeltemal nuut te wees. Die ou mens wat ons eers was, bestaan glad nie meer nie, ons het volkome “nuut geword”.
Hoe kry God dit reg om van ons wat sondaars is nuwe mense te maak? Dit klink amper onmoontlik dat dit kan gebeur. Die volgende woorde vertel ons hoe dit moontlik geword het - “Daarom as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepping.” God gee sy enigste Seun as offer sodat ek en jy hierdie nuwe jaar as nuwe mense kan leef.
Gebed: Ek bely vandag Here dat ek baie van die goeie voornemens wat ek vir die jaar gehad het alweer verbreek het. Help my tog dat ek nie my voorneme om as nuwe mens te leef verbreek nie. Amen