Die tweede koms - 13 Desember 2024
Ben Fourie
“Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die helder môrester." Openbaring 22:16b, 2020-vertaling
"Kyk, Ek kom gou!” Openbaring 22:7a, 2020-vertaling
Koms en wederkoms, onafskeidbaar van mekaar. Ewe belangrik vir die gelowige, maar tog geniet die een so dikwels voorrang bo die ander. Kersfees is seker die dag in die jaar wat die kerke die volste is, want Kersfees laat ons dink aan 'n krip, 'n baba, diere, herders en wyse manne wat geskenke bring. Die Bybelse uitbeelding van die wederkoms laat ons dink aan geweldige natuurverskynsels en ander vreemde dinge wat sal plaasvind. Die beelde in Openbaring is inderdaad soms skrikwekkend en dit is dus nie vreemd dat ons liewers wil wegskram van die wederkomstoneel en eerder aan die Kerstoneel wil dink nie.
Tog kan die twee nie van mekaar geskei word nie, want die Baba in die krip is dieselfde Een wat met die wederkoms as Koning sal terugkeer om te heers. Die takkie uit die stam van Isai van wie Jesaja praat, is ook die blink môrester van Openbaring. Ons as gelowiges behoort nie van Kersfees meer te maak as van die wederkoms nie. Daar is immers geen vrees vir die wat glo nie. Openbaring is nie bedoel om ons van angs te laat bewe nie, maar is geskryf as 'n boek van troos vir elkeen van ons.
Die beeld van Christus as die blink môrester is vir my baie besonders. Onlangs het ek weer na die planeet Venus gekyk. Die pragtige blink hemelliggaam wat ons as die môrester ken, het my met vreugde vervul omdat dit 'n besondere metafoor is vir die nuwe lewe in Christus. Vroegoggend wys die môrester vir ons dat die donker nag verby is. Wanneer die ware Môrester eendag verskyn, sal dit ook die teken wees dat die donker nag van ons ou wêreld met sy oorloë en vergrype en so baie wat sleg is, finaal verby sal wees. Dan sal God se lig alles oorspoel en niks en niemand sal meer in die donker wees nie.
Hierdie is ons laaste dagstukkie vir die jaar en ons wil graag vir al ons Vers-'n-dag lesers 'n wonderlike geseënde Kersfees toewens. Mag die blink Môrester ook vir jou die pad van verlossing helder aanwys.
Ons sien u DV graag weer op 20 Januarie wanneer Vers-'n-dag vir die nuwe jaar begin.
Gebed: Ons dank U dat die Baba in die krip nou die Koning van die heelal is, en veral ook die Koning in ons harte is. Ons bid dat U hierdie Kersfees vir ons 'n blik sal gee op die tyd wanneer dit vir ewig Christusfees sal wees. Amen