Mense rondom die geboorte - 6 Desember 2024
Ben Fourie
Daar was skaapwagters in dieselfde omgewing wat in die oop veld gebly en snags hulle skaaptroppe opgepas het. Lukas 2:8, 2020-vertaling
In 'n ou legende, wat ek so 'n bietjie aangepas het, word vertel dat die engele daardie nag hard moes soek om iemand te kry vir wie hulle die boodskap van Jesus se geboorte kon bring. Hulle het oral gesoek en eers by 'n groepie tollenaars gaan stilstaan, maar die was so besig om die winste van die dag te tel, dat hulle glad nie die engele raakgesien het nie. Hulle het verder gegaan na waar 'n skatryk man 'n groot feesmaal gehou het vir sy vriende wat van oral af gekom het vir die sensusopname. Die gelag en rumoer was egter so hard dat die engele maar weer stilletjies vertrek het.
Hulle het toe gou by die stal gaan kyk of dit goed gaan met die baba en om sommer vir die herbergier van die groot gebeurtenis wat in sy stal plaasgevind het te vertel, maar moes ook hier onverrigter sake omdraai. Die herbergier was so besig om sy ander gaste te versorg dat hy nie beskikbaar was nie. Moedeloos het die engele by die kaserne van die Romeinse soldate gaan soek na iemand, al was dit ongelowiges, om die boodskap te bring. Die soldate was egter so besig met lag en drink dat die engele ook hier verbygegaan het.
Die volgende twee groepe waar die engele sonder welslae probeer het was die skrifgeleerdes wat so besig was om hulle eie vorm van godsdiens te bedryf dat hulle ore doof was vir die boodskap van die geboorte van die Verlosser. Die gewone mense was so moeg van die dag se werk dat hulle liewer 'n bietjie wou ontspan.
Einde ten laaste het die engele uitgewyk na die rustige velde waar die skaapwagters met hulle skape gestaan het en daar 'n ontvanklike gehoor gevind.
Waarmee gaan ek besig wees as die “engele” weer hierdie Kerstyd die boodskap vir my wil bring? Gun jouself hierdie Kersfees 'n rustiger tyd en doen bietjie weg met al die gejaag sodat jy weer mooi kan hoor wanneer die engele sê: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here.” (Lukas 2:11)
Gebed: My gebed vandag is dat U my nooit so besig sal vind met my eie sake, hoe belangrik dit ook al vir my mag wees, dat ek nie tyd het om die boodskap van verlossing opnuut te hoor nie. Amen