Kersfees is koninkrykstyd - 9 Desember 2024
Ben Fourie
In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk vestig wat vir ewig nie vernietig sal word ... Daniël 2:44a, 2020-vertaling
Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer. Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie. Lukas 1:33, 2020-vertaling
Van die bekendste dele in die Ou Testament is seker die droom wat Nebukadneser gehad het oor die groot beeld wat uit goud, silwer, koper, yster en klei bestaan het. Nebukadneser wou weet wat hierdie ontstellende droom beteken. God openbaar in 'n nagtelike visioen die uitleg van die droom aan Daniel en hy maak dit aan Nebukadneser bekend. Die droom verwys na vier opeenvolgende koninkryke. As 'n mens die geskiedenis navors, wys dit waarskynlik na die Babiloniese, Persiese, Macedonies-Griekse en Romeinse koninkryke. Maar daar is nog 'n koninkryk ter sprake, die belangrikste een van almal, die een wat in ewigheid nie vernietig sal word nie.
As ons nou hierdie wêreldse koninkryke vergelyk met die koninkryk wat deur Jesus se koms tot stand gebring is, vind ons die volgende:
Eerstens is dit koninkryke met wêreldse staatshoofde wat meesal hard en ongenaakbaar was soos wat ons in die geskiedenis sien. Hulle word gekenmerk deur oorlog en geweld en bloedvergieting. Hierteenoor sê die engele aan die skaapwagters dat God se koninkryk een sal wees wat deur vrede gekenmerk word en sal geld vir elke mens in wie God 'n welbehae het. Dit is ek en jy.
Die tweede kenmerk van die vier koninkryke is dat hulle tydelik en verganklik is. Dit is trouens waar van alle aardse koninkryke en regerings. Hierteenoor is God se koninkryk een wat nie vernietig sal word nie, of soos die engel vir Maria gesê het, daar sal geen einde aan kom nie. Dit is daarom onaantasbaar.
Wat beteken dit vir ons wat eersdaags weer die koms van die Messias vier? Die belangrikste is dat sy koninkryk nie wêrelds is nie, maar op geestelike vlak in die wêreld besig is. Sy koninkryk bring nie elke oorlog tot 'n einde nie, maar is bedoel om ware vrede in die harte en lewens van gelowiges te bring en vir ons 'n uitsig op die ewige lewe te gee.
Gebed: Baie dankie dat u koninkryk van vrede ook vir my bedoel is. Gebruik my om iets van hierdie vrede in die omgewing waar ek werk en lewe uit te dra. Amen