Jesus as onbekende - 5 Desember 2024
Ben Fourie
Sy het hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar nie vir hulle plek in die herberg was nie. Lukas 2:7b, 2020-vertaling
Een van die heel mooiste verhaaltjies rondom die gebruiklike Kersspel wat kinders elke jaar by die kerk opvoer, is die storie van die seuntjie wat by een so 'n geleentheid die rol van die herbergier gespeel het. Hy was 'n saggeaarde kind met 'n hart vol liefde vir almal. Toe Josef en Maria by sy herberg kom aanklop, moeg en verlate in die donker nag, het hy hom so in die toneelstuk ingeleef dat hy hulle vreeslik jammer gekry het. Sy woorde was: “Ek is so jammer dat ek nie vir julle 'n plek in my herberg het nie, maar wil julle nie voordat julle verder soek dalk net inkom vir iets om te drink nie.”
Die ontvangs wat die regte jong egpaar in Bethlehem gekry het, was seker nie so hartlik nie. Dit was 'n groot sensus wat keiser Augustus beveel het en die dorpie was gepak van die mense. Komende van Nasaret was hulle waarskynlik redelik onbekend in Bethlehem en het niemand hulle juis aan net nog twee moeë jongmense gesteur nie, al was die vroutjie ook swanger. Al oorblywende verblyfplek was 'n stal.
Mens wonder wat die reaksie van die mense sou wees as hulle moes geweet het dat die kind wat daardie nag gebore sou word die Messias is na wie die volk al eeue lank uitgesien het. As hulle maar net geweet het wie die baba is! Hoe anders sou die reaksie nie gewees het nie. Dit bring my voor die vraag oor wat my reaksie elke dag is. Het die baie geleenthede wat ek al Kersfees gevier het my nie dalk ook afgestomp gemaak nie, nie net vir sy koms nie, maar ook vir die baie mense wat voor my herberg kom staan nie?
Dwarsdeur ons lewe, en sekerlik ook hierdie komende Kersfees, kom Jesus in die gestalte van iemand op ons lewenspad. Soms kyk ek by Hom verby in my verhouding met my lewensmaat of kind of ouer. Dalk herken ek hom ook nie in die kollega by die werk of die persoon wat besig is om my huis skoon te maak nie. Miskien is Hy die vreemdeling agter die winkelsentrum se kasregister.
Die storie van die seuntjie is baie dierbaar, maar hou ook 'n baie groot lewensles in. Kom ons nooi mense ook in ons lewens in sodat hulle in en deur ons bekend kan raak met die Kind van Bethlehem wat vir so baie mense nog 'n onbekende is.
Gebed: Here Jesus, help my om in al my verhoudings vir mense om te gee en so u liefde uit te dra. Amen