Die boodskapper - 3 Desember 2024
Ben Fourie
“Kyk, Ek gaan my boodskapper stuur en hy sal ‘n pad voor My gereedmaak. Onverwags sal hy na sy tempel kom, die heer na wie julle soek, die boodskapper van die verbond na wie julle uitsien ... " Maleagi 3:1, 2020-vertaling (Lees ook Jesaja 1:3)
Het jy al na iets uitgesien en dan voel dit vir jou die tyd loop met loodsware voete? As kind het ek veral uitgesien na skoolvakansies, verjaardae en natuurlik Kersfees. Jy tel letterlik die dae af en dit voel vir jou dit gaan nooit gebeur nie. Ook as volwassene het ek al dikwels uitgesien na iets spesiaal wat moet gebeur en dan voel dit asof die tyd gaan stilstaan het.
So moes die volk van God seker ook gevoel het oor die koms van die Messias. Hulle het al so lank gewag. Die tyd wanneer die profeet Maleagi optree is kort na die ballingskap in Babilon. Die land was maar in ‘n bra haglike toestand met volop oneerlike ampsdraers, mense wat die huwelik geminag en minderbevoorregtes sleg behandel het. Die mense het selfs die vermetelheid gehad om God te beskuldig van die toestand waarin hulle self die land gedompel het.
Te midde van al hierdie dinge kom die boodskap waarna die volk so lank uitgesien het. God se boodskapper is op pad om alles in plek te stel vir die koms van sy Gesalfde: “die heer na wie julle soek.” Die Nuwe Testament dui Johannes die Doper aan as die boodskapper wat die pad moes gereed maak. Hy was dan ook die een wat deur sy prediking mense voorberei het op Jesus wat die volk sou verlos. Johannes was die laaste in ‘n lang ry van boodskappers. Van die mees interessante is die van wie ons nie eers in die Bybel lees nie.
Tussen die tyd van Maleagi en die van die Nuwe Testament verloop meer as vierhonderd jaar. Van die tydperk lees ons in die sogenaamde Deuterokanonieke boeke, ook Apokriewe boeke genoem. So weet ons van die Makkabeërs en veral Judas Makkabeus wat die opstand teen die heidense koning Antiochus Epiphanus gelei het en die volk, uit wie die Messias gebore moes word, van hierdie heidense regering verlos het. Daar was dus in die eeue voor Christus se koms mense wat gestreef het om die geloof in die God van Israel suiwer te hou. Hulle was ook “boodskappers” om die weg vir die uiteindelike koms van die Messias voor te berei.
Ons sien sekerlik almal uit na die komende Kersfees, maar wat verwag ons werklik van hierdie dag? Wat verwag jy van “die heer na wie julle soek”? Sal ek Hom hierdie Kersfees ook in my “tempel” innooi?
Gebed: Ons dank U dat ons ook hierdie jaar weer kan uitsien na Kersfees waar ons Jesus opnuut kan ontmoet. Amen