Die Kers van Kersfees - 4 Desember 2024
Ben Fourie
Hy sal magtig wees, en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Lukas 1:32, 2020-vertaling
Van die heel mooiste dinge tydens Kersfees is vir my die baie kerse wat 'n mens oral sien. My vrou is baie lief vir mooi kerse. Wanneer ons die tafel dek vir 'n lekker ete, is daar altyd 'n paar kerse wat brand. Op die eerste Sondag van die Advent steek sy ons eerste Adventkers aan. Dit is ook die gebruik by ons gemeente om elke Sondag van Advent kerse tydens die erediens aan te steek. Selfs in die winkels is daar elektriese kerse te sien. Hoe mooi dit ook al mag wees, is die ware Kers van Kersfees nie iets nie, maar Iemand.
Die Kers in Kersfees kom van die oud-Nederlandse woord Kerst af. Dit beteken Christus. Die Hebreeuse weergawe is Messias en in Afrikaans beteken dit Gesalfde. Kersfees is inderdaad Christusfees, maar wie is Hy werklik? Ons soektog begin in die Ou Testament. Gister het ons uit Maleagi gelees en dit is by dieselfde profeet wat ons vandag weer eerste gaan kers opsteek.
Vir die Jode was dit baie belangrik dat die Messias uit die stam van Dawid gebore sou word, want hulle het geglo dat dit so voorspel is. Die lang geslagsregister in Matteus 1 is dan ook bedoel om te bewys dat Jesus uit die geslag van Dawid afkomstig is. So is ook die boodskap van die engel aan Maria wat in ons teksvers van vandag aangeteken is. In Maleagi gaan dit selfs verder terug as Dawid wanneer ons in Maleagi 3:1 lees van “die boodskapper van die verbond na wie julle uitsien”. Die 1933/1953-vertaling praat van die “Engel van die verbond”. Die Messias of Christus moes kom om die verbond wat God met Abraham so ver terug as Genesis 17 gesluit het, te vervul. Die verbond is dat Hy die God van Abraham en sy nageslag sal wees. In Jesus word God volkome God vir die nageslag van Abraham, maar ook vir elke mens op aarde.
Hierdie Kersfees is weer vir jou en my 'n geleentheid om die ware Kers van Kersfees te ontmoet en God se verbondsbeloftes in vervulling te sien gaan.
Gebed: Hoe kan ons U ooit genoeg dank vir al die beloftes wat U vir ons in vervulling laat gaan het, veral die belofte dat U vir altyd ons God sal wees. Help my ook om my kant van die verbond elke dag te onderhou. Amen