Die liefde van God die Vader - 2 Desember 2024
Ben Fourie
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! 1 Johannes 3:1a, 2020-vertaling
‘n Gesprek wat ek met iemand gehad het, het weer by my ‘n belangrike gedagte oor Kersfees tuisgebring. Kersdag dink ons in die besonder oor Jesus se koms na die aarde en wat dit vir ons beteken. Ons dink aan sy groot liefde vir sondaars, sy offer aan die kruis en alles wat hy ons geleer het oor heiligheid en nederigheid.
In die proses vergeet ons soms van Johannes se woorde in bogenoemde teks, asook in so baie ander plekke in die Bybel. Agter alles wat met Kersfees gevier word, staan immers die groot liefde wat God die Vader vir ons het. Hierdie liefde van God is reeds baie vroeg in die Bybel sigbaar. Ons lees in Genesis 3:9 hoe hy na die sondeval in die tuin na die gevalle mens kom soek wanneer Hy roep: “Waar is jy?”
Dwarsdeur die Ou Testament sien ons hoe Hy hierdie soeke na die mens volhou. Telkens dwaal sy volk van hom af weg, soms so erg dat hulle selfs afgode in God se plek aanbid, maar dan kan ‘n mens weer hoor hoe Hy as’t vir sy volk sê: “Waar is jy?” Soms moet God hulle straf wanneer hulle nie antwoord as Hy hulle soek nie, maar altyd weer is Hy bereid om te vergewe.
Die volk dwaal op ‘n stadium so ver af dat God toelaat dat hulle in ballingskap na Babel weggevoer word, maar selfs dan bly sy liefde nog so groot dat Hy hulle weer na hulle land laat terugkeer. Deur die profeet Hosea praat God met sy volk en sê: “Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.” (Hosea 11:8, 1983-vertaling). Vir eeue lank het God se liefde vir sy dikwels ongehoorsame volk so sterk gebrand dat hy die belofte van die koms van Iemand wat hierdie liefde finaal sigbaar sou maak, met Kersfees tot uitvoer bring.
Kom ons maak die wete van hierdie brandende liefde van God ons Vader ook die vertrekpunt wanneer ons hierdie jaar weer Kersfees vier, want daarsonder sou ons nooit sy kinders genoem kon word nie.
Gebed: Ons dank U ons Vader dat U altyd weer na ons kom soek, maak nie saak hoe ver ons afgedwaal het nie. Ons bid dat ons hierdie Kersfees weer u roepstem duidelik sal hoor. Amen