Twee paaie in die lewe, watter een kies jy? - 27 November 2024
Ewald Schmidt
“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.” Matteus 7:13-14, 1983-vertaling.
Wie van ons het nog nooit verdwaal nie? Jy is op pad na 'n bestemming, maar êrens langs die pad het jy onseker geword of jy nog op die regte koers is. Die antwoord is nie om net al hoe vinniger te probeer ry nie, jy raak dan net al hoe verder weg van waar jy wil wees. Soms is dit nodig om tot stilstand te kom, 'n padkaart uit te haal en weer te beplan.
Hoe lyk die regte pad vir ons lewe? Ek onthou in baie van ons se ouma’s se kombuise was die prentjie van “de breede weg en de smalle weg” wat op hierdie teks gegrond is. Aan die een kant van hierdie beroemde prent is daar 'n breë pad, en op daardie pad is baie mense besig om vrolik hulle gang te gaan. Aan die einde van daardie pad is die hel wat wag. Op die smalle weg is daar min mense, en die oppervlak lyk moeilik begaanbaar met baie hindernisse. Maar aan die einde van daardie pad is die hemel.
Jesus sê ons moet eers deur die regte ingang gaan om die regte pad te vind. Hy verwys hier na die nou poort. In Johannes 10:9 sê Jesus: “Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word.” Die poort na die hemel toe begin waar ons die knie buig voor Jesus, en Hom as Here van ons lewe erken. Die poort is nou, ek kom net met leë hande daar deur. Ek kan niks bydra om myself te red nie.
Die pad na die hemel toe is ook nou. Ek stap die Here se pad in sy voetspore, ek volg waar Hy lei. Ek gehoorsaam sy opdragte (Johannes 15:11). Hierdie lewenslange volg van Jesus as sy dissipel, soekende na sy wil, is nie altyd 'n maklike pad nie. Daar is selfverloëning nodig, ons kan nie altyd net doen wat ons lus is om te doen nie. Maar hierdie pad, sê ons Here Jesus, is die pad na die lewe. Hierdie pad mag moeilik wees om te stap, maar dis waar ons die vrede, vreugde en liefde van die Here in oorvloed gaan beleef.
Die pad van die verderf daarteen is 'n maklike pad. Jy doen net waarvoor jy lus het. Jy is jou eie baas, jy maak self die besluite van jou lewe. Op die korttermyn lyk dit na die lekker pad om te bewandel. Maar as jy die afdraai by die nou poort gemis het, loop hierdie pad uit op die dood. Jesus gebruik hierdie beeld om sy dissipels te waarsku: ons het 'n keuse om te maak in die lewe. Ons kan nie wydsbeen op al twee paaie loop nie. Ons is van nature gebore op die breë weg, die pad van die verderf. Ons het 'n ontmoeting met Jesus nodig, en 'n koersverandering agter Hom aan om die pad van die lewe te kan stap.
Gebed: Here Jesus, U is die vurk in die lewenspad. Wanneer ons U ontmoet, word ons voor 'n keuse gestel. U sê die meeste mense kies om die breë pad te stap, want dit lyk die maklikste. Maar U is die Bron van ware lewe. Help my om eerder die moeiliker pad saam met U te stap. Ek kies om U te volg, ek kies die pad van die lewe vandag! Amen.