Lewe van gebed - 26 November 2024
Ewald Schmidt
“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. “Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra? Matteus 7:7-11, 1983-vertaling
Gebed bly een van die belangrikste geestelike dissiplines wat ons help om te groei in ons verhouding met die Here. Jong gelowiges het ook baie vrae oor gebed. Hoe dikwels moet ek bid? Ons het nou al gesien dat gebed ten nouste gekoppel is aan die verhouding wat ons met God het. Hy is ons hemelse Vader wat weet wat ons nodig het. Ons hoef nie baie woorde te gebruik om gehoor te word nie. Maar hoeveel keer mag ons iets van die Here vra? Die meeste van ons het waarskynlik grootgeword in 'n huis waar jy jou ouers net een keer vra, en dan berus by die antwoord.
As Jesus ons dan nooi om te vra, te soek en te klop, hoeveel keer doen ons dit? Dit is waar die Griekse teks ons baie help. In Afrikaans kon dit dalk lyk asof ons net een keer vra, soek of klop. In die Grieks is dit geskryf in 'n tydsvorm wat aanhou. Wees vraende. Wees kloppende. Wees soekende. Totdat jy ontvang, vind, vir jou oopgemaak word.
Jesus bring ons ervaring van gebed terug na die verhouding wat ons met God het. Hy sê 'n aardse pa gee nie 'n klip wanneer sy kind brood nodig het nie, of 'n slang as hy vis vra nie. Jesus het ons nou al twee keer in die vorige hoofstuk herinner dat ons Vader weet wat ons nodig het voordat ons vra. Maar steeds word ons genooi om daagliks te bid, en te bly vra vir wat ons nodig het om van te lewe.
In ons verhouding met die Here stap ons ons lewenspad saam met Hom. Gebed word 'n lewenswyse. Paulus het dit met een woord in 1 Tessalonisense 5:17 beskryf - in Afrikaans: “bid sonder ophou”. Wanneer ons honger is, bid. Die Here het waarskynlik voorsien in die kos in ons kombuis. Dank Hom daarvoor. Wanneer ons nie die antwoord het wat ons nodig het nie, bly soek in gebed na God se wil, Hy sal jou laat vind wat jy nodig het. En wanneer daar deure toe is voor jou, wanneer jy geleenthede nodig het, bly klop in gebed totdat die regte deur vir jou oopmaak.
Gebed is 'n lewenslange wandel saam met die Here. Hy stel belang in ons hele menswees, in al die fasette daarvan. Wanneer ons bid oor dit wat ons nodig het, verklaar ons ons afhanklikheid van Hom. Wanneer ons ontvang, leef ons met dankbaarheid vir die Here se goedheid. Vandag se teks sê: jy is altyd welkom by jou hemelse Vader. Jy mag enige tyd vra, soek en klop.
Gebed: Here, dankie dat U altyd net 'n gebed ver van my af is. Dankie dat ek altyd by U welkom is. Leer my om te volhard in gebed, terwyl ek U vertrou vir die beste gawes wat ek nodig het. Amen.