Watter vrug dra jy in jou lewe? - 28 November 2024
Ewald Schmidt
“Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry 'n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar 'n slegte boom dra slegte vrugte. 'n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom nie goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.” Matteus 7:15-20, 1983-vertaling
Jesus het so mooi in Johannes 17:21 gebid dat sy kerk een mag wees, sodat die wêreld kan weet dat die Vader Hom gestuur het. Hy het vir ons so 'n kosbare boodskap van selfopofferende liefde gegee in sy Woord. Tog het sy Woord ook die waarskuwing van die heel begin af dat die boodskap deur die bose vervals sal word. Van die begin af waarsku Jesus teen vals profete, en Paulus in sy briewe teen die dwaalleraars.
Hoe gaan ons dan weet wat die waarheid is wanneer daar so baie vervalsing van die kosbare boodskap van Jesus se liefde is?
Ons word op verskillende plekke, soos Psalm 23 en Johannes 10 die kudde van die Here genoem. Hy self is die Goeie Herder wat sy skape lei. Maar Hy gebruik ook mense in 'n herdersamp om sy kudde te lei (Efesiërs 4:12). Jesus waarsku teen die wolwe in skaapklere – hulle gee hul voor as deel van die kudde, maar hulle bedoelings is nie goed nie. Jesus waarsku dat herders gemeet moet word aan die vrug wat hulle lewens dra. 'n Goeie boom dra goeie vrug, en 'n slegte boom slegte vrug.
Jesus sou later, in Johannes 15, praat oor die vrug wat God van ons lewens verwag. “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” (Johannes 15:5) Dit sou my eerste vraag wees: getuig die herder se lewe van die liefde van Jesus? Jesus het daardie vrug verder beskryf in Johannes 15:12: “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.” Dit is die vrug wat die Vader verheerlik, en wat Jesus graag in ons lewe wil sien – die liefde. Liefde is altyd goeie vrug! As ons verder gesels oor vrug in ons lewe, dan sal Paulus vir ons in Galasiërs 5:22-23 die vrug van die Gees beskryf: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Waar daardie vrug sigbaar is, is jy in 'n gesonde geloofsgemeenskap. Toets jou eie lewe gereeld hieraan – lewe jy in liefde teenoor God, en jou medemens?
Waar daar nie liefde is nie, het die geloof nie tuisgekom nie. Mense kan godsdienstige aktiwiteite doen, sonder liefde is dit nie wat God verwag nie. Jesus waarsku dat so 'n boom uitgekap sal word en verbrand word. Godsdienstigheid sonder die vrug van die liefde baat ons niks.
Gebed: Here Jesus, dankie vir die vrug van die liefde wat U in my lewe kom ontsluit het. Help my om goeie vrugte tot u eer te dra. Wanneer ek ander lei op u pad, vul my met u Gees, en met die vrug van die Gees wat my lewe kenmerk. Help my om U te eer met my hele lewe. Amen.