Here, U weet wat ek nodig het nog voordat ek vra - 12 November 2024
Ewald Schmidt
Gee ons vandag ons daaglikse brood … Matteus 6:11, 1983-vertaling
Nog voordat die dissipels kon leer om enige iets van God te vra, het Jesus in Matteus 6:8 gesê ons moet onthou: ons Vader weet wat ons nodig het nog voordat ons vra. Tog leer Jesus ons net daarna om vir God te vra, selfs vir die mees basiese behoefte soos brood.
Ek vermoed dat hierdie die een deel van ons gebedslewens is waarmee ons nie sukkel nie. Die gevaar kan wees dat dit al is waaroor ons bid. Dit kan so maklik gebeur dat ons gebede vervlak tot net “gee my …”. Daarom is die res van die gebed ook so belangrik om te leer bid.
Jesus sê: moenie 'n oorvloed van woorde gebruik om jou behoeftes bekend te maak nie, want God weet. Kort daarna leer Hy: maar doen dit, maak jou behoeftes in gebed aan God bekend. Jy as God se kind is welkom by die Vader se genadetroon. Hy weet presies wat jy nodig het. Wanneer jy dan vra vir daaglikse brood, sal Hy nie vergeet dat jy dit nodig het nie. Jy onthou dat dit nie vanselfsprekend is dat daar vandag kos op jou tafel is nie. Jy onthou dat jy afhanklik van die Here se sorg in jou lewe is. En wanneer jy Hom vra, en jy ontvang, dan groei jou dankbaarheid in die lewe.
In hierdie bede gaan dit natuurlik om baie meer as net fisiese brood. Dit gaan oor kos op jou tafel. Dit gaan oor skoon drinkwater. Dit gaan om die versorging van jou liggaam, om met optimale gesondheid tot eer van die Here te kan lewe. Dit wat jy nodig het, leer jy om van die Here te vra. Wanneer jy ontvang, leer jy om dankie te sê.
Hierdie bede is deel van ons daaglikse gebed. Ons leer daaglikse afhanklikheid, en om daagliks die hand van seën in ons lewe raak te sien. Op 'n ligter noot kan ons sê dat Jesus ons nie geleer het om te bid vir die eienaarskap van die hele bakkery nie, dat ons nie die Here weer hoef te pla vir die klein dingetjies nie. Nee, Hy vind vreugde daarin om vir ons te sorg, ons is nooit lastig wanneer ons oor enige saak bid nie. Paulus het dit herhaal in Filippense 4:6 toe hy gesê het: “'Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.'
Gebed: Here, U het my gemaak. U stap daagliks saam met my my lewenspad. Dankie dat ek U mag vertrou vir dit wat ek nodig het om vandag tot u eer te lewe, en U vandag te dien. Leer my om nie bekommerd te wees oor die daaglikse sorge nie, maar om dankbaar te vertrou dat U sal voorsien in dit wat ek vandag nodig het. Amen.