Leer my om te vergewe, soos wat ek vergewe is - 13 November 2024
Ewald Schmidt
en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree ... Matteus 6:12, 1983-vertaling
Ons Here Jesus het by geleentheid gesê as iemand Hom wil volg, sal hy bereid moet wees om homself te verloën, en sy eie kruis op te neem (Matteus 16:24). Ons hou van al die teksverse wat God se seën belowe, ons hou van sy versorging en beskerming. Waarom is dit dan so moeilik om Jesus te volg, dat 'n mens bereid moet wees om aan jouself te sterf? Hierdie is die een opdrag van Jesus wat teen ons grein ingaan, dit bots direk met ons sondige natuur.
Ons hou van die Ou Testament beginsel van “ ’n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand”. (Eksodus 21:22) As iemand my seermaak, moet hulle in gelyke munt terugbetaal wor – so eis die ou mens in my. Maar dit is waarom die wêreld in so 'n haglike toestand is deesdae. Ons manier van onsself handhaaf, en van self vergelding wil neem, maak die wêreld al meer onleefbaar.
Jesus leer ons eerstens hier bid dat ons self vergewe word. Ons elkeen het vergifnis nodig in ons lewe, want elkeen van ons het sonde in ons lewe. Paulus het dit in Romeine 3:11-12 gesê: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie … Almal het afgedwaal, almal het ontaard …” Ons elkeen het nodig om nuut gemaak te word om deel van God se koninkryk te kan wees. Net ons Here Jesus kan dit doen, net Hy kan ons skoonwas van ons sonde, en ons reinig van ongeregtigheid. Ons verstaan dat ons self God se vergifnis nodig het in ons eie lewe.
Dis die tweede deel van Jesus se opdrag vandag wat so moeilik op die oor val. Ons vergifnis is voorwaardelik. Ons vergifnis word beperk deur die mate waarin ons ook bereid is om ons naaste te vergewe vir dit wat hulle aan ons gedoen het. En dit is baie moeilik! Sommige oortredinge teen ons vergewe ons makliker. Iemand het iets klein van ons gesteel, of ons motor liggies in die verkeer gestamp. As die skade nie groot is nie, dan vergewe ons maklik. Maar sommige dade van ons naaste het dalk ons lewens vernietig. Ek self het al twee familielede deur moorde verloor, die een moordenaar is gevang, die ander een loop lekker los rond êrens in die samelewing. Dis bitter moeilik om sommige oortredings te vergewe.
Maar Jesus is ernstig hieroor, Hy herhaal die opdrag net na die Onse Vader gebed in vers 14-15. Hy vertel 'n hele gelykenis hieroor in Matteus 18:21 en verder. Die Here sien alles raak. Hy sal vergeld waar nodig. Maar Hy gee hierdie opdrag juis om ons te beskerm en vry te maak. So lank as wat ek my naaste haat, is ek self die gevangene. Ek draai vas in bitterheid, my eie vreugde is weg in die lewe. Maar wanneer ek leer om te vergewe, en God te vertrou vir die oordeel oor die skuldige, dan word ek vry. Ek kan weer lewe. Ek kan groei in my verhouding met die Here. Vergifnis is bedoel om my vry te maak, nie verder seer te maak nie.
Gebed: Here, dankie dat Jesus gesterf het aan 'n kruis in my plek. Dankie vir die prys wat U vir my betaal het. Leer my om my naaste te vergewe, sodat my eie oortredinge nie teen my gehou sal word nie. Here, hierdie is so 'n moeilike opdrag, help my deur die krag van die Gees. Amen.