Die aanbreek van 'n nuwe koninkryk - 11 November 2024
Ewald Schmidt
... laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Matteus 6:10,1983-vertaling
Met so baie oorlog, haat en geweld in die wêreld wonder mens dikwels: waar is God? Wanneer gaan Hy ingryp en iets doen aan die toestand van hierdie wêreld?
Die Here het alles goed gemaak. Daar was vrede en harmonie tussen God en mens, daar in die begin in Genesis 1 en 2. Ons lees van die rebellie van die mens teen God in Genesis 3. Die mens het God se koningskap verwerp, en wou self regkom, self besluit wat reg of verkeerd is. Dit het ons duur te staan gekom. Ons het die paradys verloor. Ons lewe nou in 'n harde wêreld waarin elkeen se eie belange eerste staan. Van die begin af sien ons 'n toestand van trane, van selfsug en haat, moord en diefstal wat die wêreld vernietig. Waar die mens se wil ten alle koste geskied, is daar dood.
Jesus het na hierdie wêreld toe gekom om te begin met die herstel van die wêreld. Hy het 'n beter alternatief gebring: die koninkryk van God. Daar waar mense die Here as Koning in hulle lewe erken, en Hom volg. Die koninkryk van God bestaan uit mense wat glo dat Jesus die Here van ons lewens is. Ons is ernstig op soek na God se wil, want dit bring vrede, harmonie en lewe vir ons. God se wil is verhoudingsgerig – om die Here lief te hê met ons hele hart, siel en verstand. Om ons naaste so lief te hê soos onsself. (Matteus 22:34 en verder)
In die hemel, so glo ons, is daar volmaakte harmonie. Daar is vrede tussen God en die engele, vrede tussen God se skepsels wat reeds daar is. Daar is nie plek vir haat of geweld nie. Die hemel word nie gekenmerk deur selfsug of eie eer nie.
Dit is wat Jesus ons dan leer bid: dat God se koninkryk in hierdie wêreld sal deurbreek. Ons bid dat mense Jesus as die Koning sal leer ken, wat stukkende mense kom heel maak, wat hoop bring vir die mense wat in wanhoop vasgeval het. Wanneer ons bid vir die koms van die koninkryk, is dit 'n gebed van oorgawe. Ek bid dat Jesus ook Koning in my lewe sal wees, en my lewe so sal regeer dat ek Hom sal verheerlik in alles wat ek doen, dink en sê.
Ons bid ook vir die herstel van God se vrede – soos in die hemel, so ook hier. Waar daar in die hemel harmonie tussen God en alle lewende wesens is, bid ons daarvoor ook hier by ons. Waar daar liefde en aanvaarding in die hemel is, bid ons dat dit ook ons lewens sal kenmerk. Ook hier is die oorgawe nodig – nie meer my eie wil wat ten alle koste moet geskied nie. Maar die Here wat my kom nuut maak, al meer na die beeld van Jesus kom hervorm, dat ek meer en meer soos Hy sal lyk. En dat ek die mense rondom my op 'n nuwe manier sal behandel wat God eer.
Gebed: Here Jesus, wees U asseblief die Koning van my lewe. Leer my u wil, en gee my die krag om voluit binne u wil te lewe. Mag die wêreld rondom my deur u liefde verander word om soos die hemel te lyk. Amen.