Ons het 'n Vader in die hemel - 8 November 2024
Ewald Schmidt
“So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; Matteus 6:9, 1983-vertaling
Daar is sekere vrae waarmee elke mens in die lewe gekonfronteer word. Ek glo dat elke mens op 'n stadium in hulle lewe vra: Is daar 'n God? Indien wel, kan ons Hom ken? Hoe is Hy?
Daar is 'n groot klomp mense wat wel aan die bestaan van God glo. Iemand moes die heelal geskape het, daar is net te veel orde en fyn beplanning dat dit sommer vanself gebeur het. Maar vir baie is die gedagte aan God dié van 'n onpersoonlike krag. Baie dink dat God ver, en onbereikbaar is. Hy wat sterrestelsels gemaak het, moet mos groot en ver wees. Hoe kan ek met Hom praat? Wat maak dat Hy na my sal luister?
Die dissipels vra vir Jesus: leer ons bid. Hoe praat ons met God? Jesus leer hulle dan die beroemde gebed wat elke Christen oor die wêreld heen ken.
God is nie 'n onpersoonlike krag nie, inteendeel, Hy is 'n liefdevolle persoon. Hy laat nie net sy skepping volgens natuurwette voortgaan nie, Hy is betrokke daarin. Hy is die God van verhoudings. Hy is so naby aan ons dat ons Hom “Vader” mag noem. Hy begeer om in 'n lewende verhouding met elke mens te leef, waarin ons sy kinders mag wees. Hy is 'n goeie Vader wat ons elkeen ken, wat weet wat ons nodig het nog voordat ons dit vra.
Maar Hy is meer as 'n aardse pa. Aardse vaders het beperkinge en gebreke. Aardse vaders maak foute, en maak soms seer. God is bo ons aardse vaders verhewe, Hy is in die hemel. Hy is almagtig en Hy het die vermoë om terselfdertyd te weet presies hoe dit met elkeen van sy kinders gaan. Hy is volmaak en tog so beskikbaar dat ons enige oomblik welkom is om met Hom te praat. Ons hoef nie soos met staatspresidente en konings afsprake te maak en jare te wag vir die geleentheid nie. Ons Vader luister dadelik as sy kind met Hom praat.
Ons Vader se Naam is heilig. Hy is goed, daar is geen boosheid in Hom nie. Wanneer ons dan bid: “laat u Naam geheilig word”, dan erken ons dat God heilig in ons lewe is. Daarmee gee ons aan God sy regmatige plek in ons lewe as die God aan wie ons behoort. Ons begeer om Hom te eer met ons hele lewe, dat alles wat ons doen, Hom sal verheerlik. Ek leer bid: “Here, help my om met my lewe u Naam heilig te hou.”
Een van ons ou gesange sê dit so mooi: “U is heilig, maak my heilig …”
Gebed: Here, dankie dat U nie ver is nie, U is Vader. U is naby, U sien raak, U roep en U seën en sorg vir my. Dankie dat U 'n heilige en goeie Vader is. Ek wil u Naam heilig. Verwyder die boosheid in my, dat ek meer en meer soos U kan wees. Amen.