Imogen Campbell
 
Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak. Spreuke 3:5-6, 2020-vertaling
 
Vir toegewyde Christene wat die Here dien, sal daar definitief dae kom – wanneer ons dit die minste verwag – wat dit voel asof ons wêreld in mekaar tuimel. Dink aan Job wat deur die duiwel verblind is. Soos hy, beleef ons ook dae waarvan ons verkies om te vergeet.
 
Job was besig met sy eie sake en skielik bevind hy hom te midde van Satan se beskuldigings voor God. Nie lank nie en hy is oorweldig deur ellende na ellende wat hom getref het. Hy was sonder rykdom, kinders en vrou. Al wat oorgebly het, was fisiese pyn en twyfelagtige vriende.
 
Gelukkig vir die meeste van ons is dit nie so erg soos vir Job nie, maar daar is definitief dae dat die wind uit ons seile gneem word. Uit die bloute gebeur daar dinge wat ons nooit sou verwag het nie en wat ons lewens heeltemal omkeer. Miskien voel jy asof 'n handgranaat in jou gesig ontplof het. Gebroke hart en siel en trane wat loop – met geen idee wat presies nou gebeur het nie.
 
In 'n oomblik is alles in chaos gedompel – wat gister nog reg was, het vandag onherstelbaar verander. Miskien is dit 'n rotsvaste sakeonderneming wat ineenstort as gevolg van sake buite jou beheer, of 'n geliefde kind wat 'n verskriklike daad gepleeg het wat groot hartseer veroorsaak. Miskien het 'n mooi verhouding of vriendskap skielik versuur, en jy is eensaam.
 
In sulke oomblikke moet ons die God van die heelal nog meer vertrou. Hy is ten volle in beheer. Hy is die Een wat Satan beperkte toestemming gee om ons te versoek. Versoekings wat ons beleef, kan ons egter sterker maak en ons help om te verstaan hoe kragtig God werklik is.
 
Ons het egter 'n besluit om te neem – ons moet vertrou dat Hy ons name in sy handpalms gegraveer het en dat Hy, wanneer die duiwel ons aanval, ons nie sal vergeet nie. Vertrou ook dat Hy groot is en net die beste vir jou wil hê. Sal jy God vertrou selfs op daardie dae dat die spreekwoordelike hel losbars? Ek kan jou waarborg ons almal sal sulke dae beleef.
 
"Mag die Here van vrede self, te alle tye en op elke manier, vir julle vrede gee. Die Here bly met julle almal." (2 Thessalonisense 3:16)
 
Gebed: Hemelse Vader, ons put baie troos uit die wete dat U ten volle in beheer is en dat U ons ook deur al ons slegte dae sal dra. Ons is so dankbaar dat ons altyd met alles na U toe kan gaan. Amen