Imogen Campbell
 
Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg,en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes. Hebreërs 4:12, 2020-vertaling
 
Reeds vroeg in Genesis word die swaard vir die eerste keer in die Bybel genoem. God het 'n vlammende swaard gebruik om Adam en Eva te keer om by die boom van die lewe uit te kom en vir altyd te leef.
 
Ek kan my net voorstel hoe Goliat se swaard gelyk het waarmee hy op daardie noodlottige dag teen Dawid wou veg: "Dawid hardloop toe en gaan staan by die Filistyn, vat sy swaard vas, en trek dit uit die skede. Hy het hom die doodslag toegedien deur sy kop met die swaard af te kap." (1 Samuel 17:51)
 
Die nag toe Jesus voor sy dood aan die kruis gevange geneem is, het die apostel Petrus sy swaard uitgepluk en die dienskneg van die hoëpriester se oor afgekap. Voordat Jesus die dienskneg se oor weer geheg het, het Hy Petrus vermaan om nie sy swaard te gebruik nie want "almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom." (Matteus 26:52b)
 
Van ore gepraat, 'n ikoniese beeld van vanjaar se Amerikaanse verskiesingsveldtog wat seker in baie mense se geheue ingeprent is, is die een van die voormalige president, Donald Trump, nadat hy 'n sluipmoordaanval oorleef het. Onmiddellik, te midde van die chaos met bloed wat uit sy oor vloei, het hy sy vuis in die lug geswaai en die woord "fight" gesê.
 
Ons word nie geroep om heeltemal op daardie manier te veg nie, maar die Bybel beveel ons wel om teen die duiwel te veg. "Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God." (Efesiërs 6:17)
 
Ek het al gehoor dat die swaard waarna hier verwys word, nie noodwendig langwerpig is soos 'n mens sou verwag nie. Baie geleerdes dink dit is 'n dolkagtige voorwerp vir gebruik in naby gevegte, waarna hier verwys word – vir gebruik wanneer die stryd toeneem en die geveg hewig woed.
 
Dit is vir gebruik wanneer die duiwel leuens en boosheid in ons ore fluister. Wanneer allerhande verskriklike, vieslike gedagtes by ons opkom wat ons beskaamd laat, ons laat twyfel en maak dat ons oor alles bekommerd is. Wanneer ons met angs gevul is, het ons die Woord van God nodig om ons te help om die vrede (shalom) wat ons begeer, te bekom.
 
Die punt is, die Bybel is beide ons aanvals- en verdedigingswapen, om te gebruik om in hierdie wêreld te oorleef. Ons is deel van die Here se leër van gelowiges en die Bybel is een van die effektiefste wapens teen die duiwel.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U aan ons alles gee wat ons benodig om in hierdie wêreld te floreer, selfs wanneer ons in 'n naby geveg betrokke is. Amen