Vers n dag - 24 April 2012
Om lief te hê soos die eerste Christene
Quintus Heine
'Want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek. … Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen… .' Mat 25:35-40
Praktiese geloofwaardige liefde is al wat die wêreld gaan oortuig dat Jesus werklik in ons lewens 'n verskil maak. In die vroeë kerk het die Christendom in 'n heidense wêreld vinnig versprei omdat die volgelinge van Christus met 'n grenslose liefde geleef het. Hulle het verstaan waaroor die liefde van Christus eintlik gaan. Dit was 'n selfopofferende liefde wat geen grense geken het nie. Die heidense gemeenskappe het hulle erken as die mense wat anders geleef het, nie omdat hulle beter was nie, maar omdat hulle so gedien het. Dit was die beste evangelisasie medium om die kerk te laat groei.
Die sosioloog Rodney Stark vertel (Rodney Stark 1997, The Rise of Christianity) van twee ernstige hoogs aansteeklike plae wat die Romeinse Ryk onderskeidelik in 165 n.C. en 251 n.C. getref het. Elke keer het ongeveer een derde van die Romeinse Ryk se inwoners omgekom. Die praktyk van die Romeine was om hul siekes op straat uit te sit, om die risiko van aansteeklikheid te verminder. Diegene wat dit enigsins kon bekostig, het die berge in gevlug om aan die plae te ontkom. “Dionusius, biskop van Aleksandrië skryf dat die Romeine hul eie dooies soos vullis behandel het om die siekte te vermy” (Danie Mouton).
Die Christene se reaksie was anders. Dit is goed gedokumenteer dat Christene hul siekes, in die aangesig van die dood, bly versorg het. Hulle het selfs die uitgeworpe Romeine op straat opgetel, ingeneem en versorg. Dit het tot baie Christene se dood gelei, maar hulle het met vreugde die leed van ander gedra, hulle versorg en gemaklik gemaak, al het dit hul eie dood gekos. Die Christelike geloof het 'n totale nuwe konsep in die Romeinse wêreld ingedra - dat liefde grensloos is en nie net op jouself gerig is nie. Hulle het dit selfs verder geneem as slegs mede-Christene. Hierdie geloofwaardigheid het mense twee keer laat dink en die kerk het groei.
Gebed: Here Help my om onvoorwaardelik lief te hê soos Jesus. Help my om met geloofwaardigheid Jesus se liefde uit te leef!