Vers n dag - 23 April 2012
Om lief te hê, is om God se liefde uit te deel
Quintus Heine
Hand 9:36 In Joppe was daar 'n gelowige vrou met die naam van Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.
Ons lees van die Joodse Tabita, in Grieks was haar naam Dorkas. Sy het moontlik die twee name gehad omdat sy by die Jode, sowel as die Grieke, bekend was vir haar goeie dade. By haar was daar nie 'n bo- en onderdorpmens nie. By haar was daar nie taal en kultuurverskille nie. Sy was bemind onder almal. Haar liefdeswerk was 'n universele taal wat oral weerklink het. Haar boodskap was 'n evangelie wat nie grense geken het nie. Wat verder merkwaardig is, is dat Lukas skryf dat almal geweet het dat sy gelowig is en die liefde van Jesus uitgeleef het. Ons kan dus aflei dat sy alombekend was, selfs onder nie-gelowiges. As jy in daardie tyd gepraat het van hulp aan armes, weeskinders en mense wat swaarkry, het haar naam onmiddelik in mense se gedagtes opgekom, want almal het haar geken vanweë haar dade. Dit was seker ook die rede waarom Lukas haar uitgesoek het om vir die kerk van alle tye te wys, hoe 'n Christen nou eintlik lyk en lewe!
Die Here gee vir ons 'n duidelike opdrag dat ons moet omsien na arm mense. Daar is baie voorbeelde in die Bybel wat getuig dat die versorging en omsien van die armes en hulpeloses 'n kenmerk van 'n ware gelowige is.
Die evangelie van Jesus word aan arm mense gebring deur hulle te versorg en aan hulle die verlossingsboodskap te bring. Die Bybelgenootskap het 'n spesiale projek waar duisende Bybels gratis aan die armstes van die armes voorsien word. Oudiobybels word ook gratis aan ongeletterdes voorsien. Hierdie projekte word saam met ander hulpmiddels soos geletterdheidsprogramme aan arm mense voorsien. Jy kan ook aan sulke mense die evangelie bring deur self vir die spesiale Bybels vir die armes-projek by te dra (die besonderhede is langsaan).
Gebed: Here maak my betrokke by die lewens van arm mense, ook deur vir hulle die evangelie te bring.